|

Gautengse LUR vir onderwys kan nie alleen wette maak

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van Onderwys, het hom vir die soveelste keer die afgelope jaar die argwaan van die publiek op die hals gehaal.

Lesufi, wat die afgelope tyd met die een omstrede voorstel na die ander vorendag gekom het, wil nou selfs sover gaan om die Skolewet te verander sodat hy alleen kan besluit oor skole se taal-, toelatings- en godsdiensbeleid. Hy wil ook ’n groter sê in die aanstelling van onderwyspersoneel by ’n skool hê.

Lesufi het vandeesweek aangevoer as LUR het hy ’n beter idee wat in die onderwyssektor aangaan wat hom in ’n beter posisie plaas om oor sake by skole te besluit as beheerliggame.

Hy meen skole kan nie meer om apartheid beplan word nie aangesien die land se demografie heeltemal verander het.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê in die lig van Lesufi se uitlatings moet hy bedank.

“Die Skolewet bepaal tans dat beheerliggame onder meer besluit oor skole se taal-, toelatings-, godsdiens- en aanstellingsbeleid – ʼn proses wat volgens AfriForum demokraties is en verseker dat skole hulle gemeenskappe dien.

“Die LUR het nie die mag om wetgewing te hersien nie. Sy uitspraak is een van verskeie die afgelope twee jaar wat gemoedere onnodig ontstig en nie in die belang van onderwys in die provinsie is nie, omdat dit die aandag van probleme soos disfunksionele skole aflei.”

Volgens Bailey word ouers afgeskrik deur die voortdurende aanslae op beheerliggame se magte en plaas hulle daarom hul kinders in privaatskole, wat ʼn negatiewe invloed op openbare onderwys tot gevolg het.

“Die feit dat Lesufi apartheid as verskoning vir sy eie magsbehepte agenda insleep, het die negatiewe gevolg dat Gautengse gemeenskappe toenemend gepolariseer word. Skemas van hom om byvoorbeeld skole te paar (“twinning”) en Afrikaanse skole na parallelmedium skole om te skakel, het onlangs groot teenkanting en selfs regsaksie tot gevolg gehad.”

Bailey het gesê AfriForum staan gereed om ook die jongste planne van Lesufi teen te staan, indien hy daarmee sou probeer voortgaan.  “Die behoud van enkelmedium Afrikaanse skole is direk gekoppel aan die behoud van Afrikaans as hoëfunksietaal.  Die LUR het reeds bewys dat hy nie Afrikaans goedgesind is nie en ook om die rede moet sy jongste uitlatings skerp veroordeel word.”

Bailey meen Lesufi is net nog ’n voorbeeld van ʼn amptenaar in ʼn sleutelposisie binne ʼn departement en milieu waarin hy weinig ervaring het.  In plaas daarvan om die legio krisisse op die terrein van onderwys in Gauteng aan te pak en met oplossings vorendag te kom, teiken hy oorwegend suksesvolle skole en skep verdeling en onsekerheid. “Lesufi behoort te bedank en vervang te word met  ʼn LUR wat deeglike kennis en ervaring op die terrein van onderwys het eerder as eie ideologiese agendas.”

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se standpunt is dat Lesufi na ’n totalitêre bedeling wil beweeg waar magte ingetrek en ’n apartheidstyl voorgehou word.

Fedsas meen wetgewing kan nie sommer summier verander word nie. Dit moet ook steeds aan die bepalings van die Grondwet voldoen.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het ook al by monde van Chris Klopper, uitvoerende hoof, teen Lesufi en sy planne te velde getrek.

Dié vakbond meen daar kan nie op Lesufi se woord peil getrek word nie. ’n Beroep is op ouers en die onderwysgemeenskap gedoen om op hul regte aan te dring soos wat in die grondwet verskans is.

Soortgelyke plasings