|

Wanbestuur en beweerde wangedrag in Netbal SA ontbloot

AfriForum het vandag aangekondig dat die organisasie vir Joseph Taylor en Olivia Jasriel ondersteun in hul Netbal Suid-Afrika (SA)-sake. Die ernstige wanbestuur en beweerde wangedrag in Netbal SA is tydens ’n mediakonferensie onder die loep geneem.

Volgens Taylor, ’n gekwalifiseerde netbalafrigter en skeidsregter, het hy inligting aangevra oor finansiële ongerymdhede tydens Cecilia Molokwane, president van Netbal SA, se ampstermyn, asook inligting oor beweerde voorvalle van seksuele mishandeling. Taylor het hierdie inligting ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) versoek, maar Netbal SA het bloot nie die inligting verskaf nie ondanks hul wetlike verpligtinge om dit te doen. Hy versoek ook inligting oor sy skorsing as lid van Netbal SA.

Volgens Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, is Netbal SA se weiering om inligting aan Taylor te verskaf, nie net kommerwekkend nie, maar dit laat ook vrae ontstaan oor Netbal SA se deursigtigheid en die aanspreeklikheid van die leiers in Netbal SA. “Ons is van mening dat Molokwane se optrede of gebrek aan optrede aansienlik bygedra het tot die huidige stand van sake in Netbal SA.

Jasriel, ’n bekende kampvegter teen seksuele misbruik van kinders en wat self ook ’n slagoffer van mishandeling was, het reeds inligting oor die beweerde seksuele misdrywe bekend gemaak en heelwat klagtes is by die polisie aanhangig gemaak. Tog het Netbal SA en Molokwane ná Jasriel se aantygings op sosiale media ’n lastersaak teen haar aanhangig gemaak. AfriForum se regspan ondersteun Jasriel tans om te bewys dat haar uitsprake in openbare belang en waar is en dus nie as laster beskou kan word nie.

Volgens Peters kan die saak teen Jasriel beskou word as ’n poging om die aandag af te lei van die beweerde wanbestuur van Netbal SA en die versuim om die ernstige ongerymdhede te ondersoek. “Ons sal aanhou om vir Jasriel te ondersteun. Netbal SA moet daarop fokus om hierdie kwessies aan te pak eerder as om ’n kampvegter teen mishandeling in sport stil te maak.”

Christine du Preez, voormalige visepresident van Netbal SA, het verskeie bekommernisse uitgelig en volgens haar is Netbal SA deur regeringsamptenare gekaap.

“Vier van die ses lede van die Wêreldbeker-raad is regeringsamptenare terwyl net twee lede van Netbal SA is. Dit is duidelik dat netbal nie die hooffokus was wanneer besluite geneem is nie. Daar is ook baie finansiële ongerymdhede met geld wat in die bankrekening inbetaal word en dan weer na ander rekeninge oorbetaal is.”

Volgens Du Preez is die pasafgelope wêreldbeker ’n voorbeeld van die wanbestuur in netbal in die land. “Met ’n begroting van meer as R180 miljoen vir dié toernooi sou mens ’n goed georganiseerde en gehalte toernooi met vol stadions verwag het. Die kaartjies was egter so duur dat mense eerder die netbal by die huis gekyk het. Die geld wat begroot is vir die wêreldbeker kon beter aangewend geword het sodat meer mense na die wedstryde kon kyk en om gestand te doen aan die hutsmerk van dié toernooi, #TakingNetballBackToThePeople.”

Peters het tydens die konferensie gesê hulle is bewus van die feit dat Molokwane ’n assistentbestuurder in die sport en rekreasie-afdeling in die Polokwane Plaaslike Munisipaliteit is en haar volle salaris verdien al is sy met spesiale verlof om aandag te gee aan haar verpligtinge as president van Netbal SA. Dit terwyl sy boonop na bewering vir etlike jare nie enige pligte vir dié munisipale bestuurspos nagekom het nie.

Hy het beklemtoon dat hierdie regsake nie oor individuele sake gaan nie, maar oor die toekoms van netbal in die land.

“AfriForum is gereed om mense te ondersteun wat geregtigheid soek. Ons staan saam met Jasriel, Taylor en almal wat antwoorde en aanspreeklikheid in Netbal SA soek. AfriForum doen daarom ’n beroep op Netbal SA en sy beheerliggame om hierdie kritieke kwessies te prioritiseer en die hoof te bied eerder as om geldige bekommernisse en stemme te probeer onderdruk,” sê Peters.

AfriForum stel ook binnekort episode twee van sy dokumentêr oor Netbal SA bekend. Kyk episode een hier.

Soortgelyke plasings