|

Gemeenskap knap self Pongola-begraafplaas op

Terwyl munisipaliteite se dienslewering in byna elke uithoek van die land agteruitgaan, spring meer en meer gemeenskappe self in om die toenemende verval en agteruitgang te keer. In KwaZulu-Natal het AfriForum-lede van die dorp Pongola nou ook genoeg gehad van dié plaaslike munisipaliteit se swak dienslewering en besluit om dié oneffektiwiteit hier op ’n praktiese wyse te takel. Daarom is daar verlede week ’n skoonmaakaksie by die plaaslike begraafplaas aangepak.

Die gebied het gedurende Desember hoë reënval ondervind, maar aangesien die uPhongolo Plaaslike Munisipaliteit weinig tot geen instandhouding van die plaaslike begraafplaas gedoen het nie, het AfriForum se Pongola-tak besluit om self in te spring en die terrein skoon te maak.

Volgens Marilda Schoombee, AfriForum se Pongola-takvoorsitter, het die skoonmaakaksie ook ’n gulde geleentheid vir familielede gebied om onder veilige omstandighede die grafte van naasbestaandes op te knap. Gemeenskapslede het tydens die projek gras gesny en opgehark. Vullis is ook hiertydens verwyder.

“Dié projek vorm deel van die Pongola-tak se volhoubare projekte en ons beplan om hiermee voort te gaan. Ons nooi die gemeenskap uit om ook deel van hierdie inisiatiewe te word,” voeg Schoombee by.

“AfriForum merk daagliks op hoe dienslewering agteruitgaan en dat gemeenskappe self inisiatief neem om dienste, wat eintlik die verantwoordelikheid van plaaslike owerhede is, oor te neem. ’n Kragtige selfdoenbenadering is beslis besig om hier in Pongola en elders in die land pos te vat. Die krag van gemeenskappe wat saamwerk sal eenvoudig nie deur oneffektiewe politici en amptenare onderdruk kan word nie,” verduidelik Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder in KwaZulu-Natal.

Raak vandag nog deel van AfriForum se Pongola-tak en raak betrokke by projekte wat jou gemeenskap direk raak. Kontak die Pongola-takvoorsitter, Marilda Schoombee, by 082 874 2340 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings