|

Gemeenskap pak projek park vir park!

Rustenburg is dalk nie Rome nie, maar die uitdrukking “Rome is nie in een dag gebou nie”, geld net so goed vir dié stad in Noordwes as vir die Italiaanse hoofstad. Want sien, terwyl parke en ander openbare terreine in elke uithoek van Suid-Afrika verval, knap AfriForum se Rustenburg-tak dié stad se parke een vir een én deurlopend op as deel van die tak se volhoubare projek en bou sodoende aan ’n beter en skoner Rustenburg.

Gedurende Maart het die Rustenburg-tak sy opknappingswerk toegespits op die terrein in Bultstraat (tussen Kerk- en Krugerstraat) sowel as die terrein op die hoek van Helen Joseph-/Beyers Naudé-rylaan en Bovenstraat. ’n Totaal van nagenoeg 4 ha gras is as deel van die projek met ’n ywerige trekker en bossiekappers kafgedraf.  

Volgens Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groot-Marico-streek, is die tak se projekleier, Jan van Zyl, ’n steunpilaar in die gemeenskap wat die leisels van hierdie gemeenskapsprojek met geesdrif vashou.

Viljoen benadruk dat die gemeenskap en die organisasie Rise Up Rustenburg se volgehoue betrokkenheid by hierdie projek ook prysenswaardig is.

“Daar is ’n aansienlike verskil in die gemoed van Rustenburgers wanneer die parke onderhou word. Misdaad neem af en sluipslapers trek weg en dit lei alles daartoe dat die inwoners veiliger voel. Die projek lê na aan my hart en ek sal aanhou om Rustenburg te verbeter!” verduidelik Van Zyl.

AfriForum se Rustenburg-tak nooi gemeenskapslede uit om by hierdie inisiatief betrokke te raak. “Die waarde van skoon openbare terreine soos parke en begraafplase kan nie misken word nie, en wanneer ’n gemeenskap waarlik saamstaan om op hierdie manier ’n positiewe én praktiese verskil in Rustenburg te maak, sal ons almal die vrugte daarvan kan pluk. Die deelname en samewerking van die gemeenskap is egter onontbeerlik om hierdie doelwit te bereik,” sluit Viljoen af.

Vir meer inligting en om betrokke te raak by dié en toekomstige projekte en aktiwiteite, word belangstellendes aangemoedig om by AfriForum se Rustenburg-tak aan te sluit. Kontak Dawie Conradie by 082 930 9905 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings