|

AfriForum werp alles in die stryd om Pretoria-Oos se strate te verlig

Te midde van voortslepende kragonderbrekings hoef die inwoners van Pretoria-Oos nie ook op die pad in duisternis gehul te word weens straatligte wat buite werking is nie. Daarom wil AfriForum se Garsfontein-Faerie Glen-tak so gou moontlik dié probleem die hoof bied. Hierdie tak het vroeër vandeesmaand met ’n oudit begin om te bepaal hoeveel straatligte in die omgewing van Garsfontein en Faerie Glen buite werking is. Dié oudit word in samewerking met veiligheidsmaatskappye en ander gemeenskapsorganisasies in die gebied gedoen en vorm deel van AfriForum se pogings om landwyd woonbuurte te verlig.

Die Garsfontein-Faerie Glen-tak is tans besig om ’n lys saam te stel van straatligte wat buite werking of beskadig is. Dié lys gaan die tak help om die omvang van die probleem te bepaal.

Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, sê sodra die oudit afgehandel is gaan die tak dit aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit oorhandig sodat herstelwerk so gou moontlik kan begin. Die burgerregteorganisasie gaan ook die metro hiermee bystaan.

“AfriForum verstaan dat daar enorme uitdagings is met verouderde infrastruktuur en beperkte hulpbronne, daarom het die plaaslike AfriForum-tak besluit om die projek af te skop sodat daar akkurate inligting is om mee te werk. Die oudit sal AfriForum in staat stel om die metro met aksieplanne by te staan sodat die probleem doeltreffend aangepak word. Sou die metro nie daartoe in staat wees om die nodige herstelwerk te doen nie, sal AfriForum se Garsfontein-Faerie Glen-tak alles in die stryd werp om self hierdie dele van Pretoria-Oos te verlig,” sê Ungerer.

Hoewel die Garsfontein-Faerie Glen-tak onverpoos werk om elke foutiewe straatlig aan te teken, moet gemeenskapslede steeds dié onklaarrakings rapporteer. Stuur ’n e-pos aan streetlights@tshwane.gov.za om foutiewe of beskadigde straatligte aan te meld, of besoek afriforum.co.za/verlig-jou-straat/.

“Dit is ’n groot veiligheidsrisiko as dit stikdonker op die paaie is en AfriForum wil ’n daadwerklike rol speel in die beveiliging van hierdie gebied. Die hele gemeenskap se hulp word egter benodig sodat die inligting akkuraat vervat word,” sluit Ungerer af.

Raak vandag nog by AfriForum se Garsfontein-Faerie Glen-tak betrokke deur ’n epos aan dewet.ungerer@afriforum.co.za te stuur.

Soortgelyke plasings