| |

Eerste 30 Orania-kareeboompies kry nuwe tuiste tydens Boomplantmaand

Die eerste 30 Orania-kareeboompies sal binnekort in die Bo-Karoo aangeplant word as deel van die AfriForum Bo-Karoo-tak se Boomplantmaand-projek. Die eerste besending van 30 boompies is deur middel van die Orania-kwekeryprojek aan die tak gelewer. Dit is reeds aan verskeie instansies – waaronder skole – geskenk om in en om Orania geplant te word.

Die Orania-kwekeryprojek is in Januarie vanjaar deur middel van ’n samewerkingsooreenkoms tussen die Orania Dorpsraad en die AfriForum Bo-Karoo-tak op die been gebring. Indien die projek op die lange duur slaag, sal die Bo-Karoo in die komende jare in ’n paradys van kareebome omskep kan word.

Volgens Arno Lambrechts van die Orania Dorpsraad spruit die idee vir die Orania-kwekeryprojek voort uit Bloemfontein se destydse Rosestadmodel. “Inwoners van Bloemfontein is in daardie jare aangemoedig om rose teen laer pryse by die plaaslike munisipaliteit aan te koop en dan soveel as moontlik daarvan in die stad aan te plant,” verduidelik Lambrechts. Daar is bepaal dat die geharde karee optimaal vaar in die taai Noord-Kaapse klimaat en sodoende is die kwekeryprojek vir die kweek van die sogenaamde Orania-karee gebore.

“Dit is vir die Orania Dorpsraad en die AfriForum Bo-Karoo-tak belangrik om bome in dié streek te plant,” verduidelik Magdaleen Kleynhans, voorsitter van die AfriForum Bo-Karoo-tak. “Dit is juis waarom dié twee organisasies kragte saamgesnoer het om die kwekery te vestig. Hierdeur sal toegesien kan word dat bome wat in en om Orania geplant word, uit Orania kom.”

“AfriForum verstaan die waarde van bome en dit is vir ons opwindend om te sien hoe plaaslike gemeenskappe weer die inisiatief neem om eerder vanuit hul eie omgewing boompies te verskaf,” sê Werner Strauss, provinsiale koördineerder van die Noord-Kaap. 

Inwoners in die Bo-Karoo-streek word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak en sodoende ’n daadwerklike verskil in die Bo-Karoo te maak. SMS “Bo-Karoo” na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings