|

Gemeenskapslede wat begraafplaas opruim, word verjaag

’n Skoonmaakaksie by die Secunda-begraafplaas het onlangs ’n onverwagse wending geneem toe amptenare van die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit gemeenskapslede verbied het om met hul werksaamhede in die begraafplaas voort te gaan. Tydens dié voorval wat op 24 Februarie plaasgevind het, is lede van AfriForum se Trichard-Evander-Kinross-Secunda-tak (oftewel die Teks-tak) sowel as ander gemeenskapslede wat aan die skoonmaakaksie deelgeneem het, versoek om hul werk onmiddellik te staak en die perseel te verlaat.

Die skoonmaakaksie het volgens Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak, die oggend sonder enige probleme afgeskop en vrywilligers het ingespring om onder meer gras op die terrein te sny en vullis op te ruim. Die rustigheid was egter van korte duur, want teen skaars ’n uur nadat die dag se werk begin is, het amptenare van die munisipaliteit werksaamhede laat staak en aangevoer dat, kragtens die munisipale bywette, slegs die munisipaliteit die terrein mag opruim. Dit terwyl daar soms maande lank geen munisipale instandhouding by dié terrein gedoen word nie.

Boonop doen onbevestigde gerugte nou die rondte dat sekere munisipale amptenare omkoopgeld ontvang vir die instandhouding van bepaalde grafte. “Indien dié gerugte waar sou wees, kom dit neer op ’n onaanvaarbare onwettige praktyk aangesien dit reeds deel is van die munisipaliteit se mandaat om die instandhouding te doen,” benadruk Du Plessis.

AfriForum het intussen, op 29 Februarie, die munisipaliteit skriftelik in kennis te stel dat, tensy die munisipaliteit hul verantwoordelikheid ten opsigte van die instandhouding van die begraafplaas nakom, die Teks-tak sal voortgaan met sy instandhoudingsprojek. Die tak beoog voorts om die projek op ’n maandelikse basis aan te pak.

In nóg ’n geval waar die munisipaliteit sy plig versuim, het die Teks-tak ingegryp en in Februarie die perseel van die Davieshof-tehuis in Secunda skoongemaak. Die tehuis behoort aan die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit, maar instandhouding hier laat veel te wense oor, sê Du Plessis. “’n Groot hoeveelheid van Secunda se bejaardes woon in hierdie tehuis en net soos in verskeie ander gevalle op die dorp, kom die munisipaliteit eenvoudig nie sy verantwoordelikhede na nie,” verduidelik hy.

“Ons sal egter nie toelaat dat die munisipaliteit ons hiet en gebied soos wat dit hulle pas nie. Ons is hier om die gemeenskap te dien en sal aanhou om dit te doen,” sluit Du Plessis af.

Die gemeenskap word aangemoedig om betrokke te raak by hul plaaslike AfriForum-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

(Foto: Ridge Times, 3 Februarie 2021, beskikbaar by https://www.citizen.co.za/ridge-times/news-headlines/2021/02/03/secunda-graveyard-a-disgrace/)

Soortgelyke plasings