|

AfriForum-takke ondersteun vloedgeteisterde gebiede

AfriForum se Weskus-tak in Langebaan en die Cederberg-tak in Clanwilliam het gedurende die onlangse Wes-Kaapse vloede ook hulp verleen aan die naburige dorpe wat deur die oorstromings geraak is.

Citrusdal is van die buitewêreld afgesny nadat wydverspreide reën oor die provinsie geval het. Brûe en paaie het onder meer weggespoel.

Die Weskus-tak het meer as R8 000 se kos en klere aan die Citrusdal-gemeenskap geskenk wat sonder heenkome gelaat is en waarvan baie inwoners al hul besittings verloor het. Die tak het in samewerking met Saldanha-rampbestuur behoeftebepalings gedoen en die versoekte voorrade aangebied wat met ’n helikopter ingevlieg moes word.

Hoewel Clanwilliam nie noemenswaardige skade gely het nie, het hulle vir dae nie elektrisiteit gehad. Die Cederberg-tak het die plaaslike ouetehuis van ’n kragopwekker en diesel voorsien sodat die bejaarde inwoners darem elektrisiteit kon om kos te maak en vir noodgevalle.

“Dit is vir ons belangrik om te help en verskil in gemeenskappe te maak. Baie mense het alles verloor. Ons moedig gemeenskappe aan om ook te help en weer hoop te skep in mense lewens, al is dit hoe klein,” sê Sidney Monk voorsitter van die Weskus-tak.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om hul naaste AfriForum-tak te skakel sou hulle bydraes wil lewer. Skakel Monk by 082 802 2349 by die Weskus-tak en Hendrik le Roux by 082 375 2247 by die Cederberg-tak om ’n bydrae te maak.

Soortgelyke plasings