|

Gesamentlike inisiatief bevorder die kulturele identiteit van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi

AfriForum en die kantoor van Kgosi Mogakolodi Masibi van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi-kultuurgemeenskap van Disaneng, wes van Mahikeng in Noordwes, het saamgewerk om verwelkomingsborde op te rig om inwoners en reisigers in die gebied van dié gemeenskap te verwelkom. Die Setswana-borde lui: “Batlharo Boo Tokwana ba ga Masibi ba lo amogela mo Disaneng”wat beteken “Die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi verwelkom jou in Disaneng.”

Ons gemeenskap het ’n gesegde: ‘Morafe o senang ngwao, ga o iketse, e bile, leina tsela’ – wat sê dat ’n volk wat nie hul kultuur en tradisies uitleef nie, verlore is en dat as jy iemand se naam ken, jy weet waar hy vandaan kom.

“Ons gemeenskap het ’n gesegde: ‘Morafe o senang ngwao, ga o iketse, e bile, leina tsela’ – wat sê dat ’n volk wat nie hul kultuur en tradisies uitleef nie, verlore is en dat as jy iemand se naam ken, jy weet waar hy vandaan kom. Ons is trots daarop om padtekens in ons moedertaal te hê wat gemeenskapslede en reisigers verwelkom in die plek wat ons tuiste is,” sê Kgosi Mogakolodi Masibi, Kgosi van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi-kultuurgemeenskap.

“Vreedsame naasbestaan is moontlik wanneer kultuurgemeenskappe in wedersydse erkenning en respek teenoor mekaar optree. ’n Gesonde kulturele selfbeeld en selfrespek lê die grondslag om ook ander gemeenskappe te kan respekteer. Dit is daarom vir ons ’n voorreg om projekte soos dié, wat kulturele identiteit bevorder, saam met Kgosi Masibi en die gemeenskap wat hy lei, aan te pak,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

“AfriForum is besig om ’n netwerk van kultuurgemeenskappe te bou wat saamwerk om ’n toekoms vir al die gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika te verseker. Die wedersydse erkennings-en-samewerkingsooreenkoms wat ons vroeër met die Bathlaro Boo Tokwana Ba Ga Masibi gesluit het en hierdie projek wat daaruit voortgevloei het, wys hoe hierdie netwerk besig is om op voetsoolvlak vorm aan te neem,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Soortgelyke plasings