|

Regering verloor poging om samewerkingsbevel met Botswana om politieke elite-verdagtes te ondersoek om te keer

Die Hooggeregshof in Pretoria het teen die Suid-Afrikaanse regering bevind en koste ten gunste van die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in Botswana toegeken. AfriForum se privaatvervolgingseenheid is deur die DOV, adv. Stephen Tiroyakgosi genader en het namens hulle opgetree. Die saak hou verband met ’n bevel wat die regering verplig het om met hul eweknieë in Botswana saam te werk in ’n ondersoek wat hooggeplaaste Suid-Afrikaanse politieke figure by beweerde misdrywe in Botswana betrek.

Botswana het in September 2019 ’n aansoek om wedersydse regshulp by Suid-Afrika ingedien – maar ondanks talle opvolgings en pogings om samewerking te kry, het verskeie staatsdepartemente bloot ’n blinde oog gedraai. Dit het Botswana se DOV genoop om AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp te nader.

Die aansoek deur die Suid-Afrikaanse regering het gepoog om AfriForum se mandamus-aansoek om te keer. Hierdie mandamus-aansoek is op 7 Julie 2021 met koste deur regter Hennie de Vos toegestaan en het gelas dat die Departement van Justisie en die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) verplig is om te voldoen aan die aansoek wat deur die Botswana regering gebring is vir wedersydse regshulp. Die departement en die NDOV het in Julie 2021 daarin misluk om AfriForum se mandamus-aansoek teen te staan.

Regter Joseph Raulinga het bevind dat die regering speel vir tyd in plaas daarvan om saam te werk. “Die applikante het versuim om te demonstreer waarom die bevel verkeerdelik toegestaan ​​is. Die applikante het soveel as wat hulle kon probeer om die saak buite die hof te skik, dit was slegs uitsteltegnieke, hulle het ’n ondersoeker en ’n aanklaer aangestel en steeds versuim om ’n opdatering te verskaf oor die verwikkelinge wat die ondersoeker gemaak het. Die respondent is korrek in hul betoog dat daar ’n punt kom wanneer litigasie tot ’n einde moet kom.

Die staat het verskeie verskonings aangebied vir die versuim om op die saak in die hof te reageer, van probleme met die verkryging van ’n advokaat tot selfs die aanvoer van Covid-19 as rede – wat alles deur die hof verwerp is. Die bewering dat hulle gesukkel het om die dienste van ’n senior advokaat te bekom, en dat die werksprosedures tydens die nasionale ramptoestand hulle op een of ander manier verhinder het om die saak behoorlik te opponeer, word verwerp,” het Raulinga gesê.

Die regter het geen ander keuse gehad as om die aansoek van die hand te wys nie. “Na oorweging van die bogenoemde faktore en na aanhoor van die aangeleentheid, het die Hof die partye die geleentheid gebied om buite die hof te skik. Die applikante het egter steeds geaarsel en nie daarin geslaag om ’n oplossing te kry om die saak afgehandel te kry nie. Hulle het versuim om met die respondent saam te werk.”

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het gesê die uitspraak is ’n aanklag van verleentheid op die kantore van Ronald Lamola, minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, adv. Doctor Mashabane, Direkteur-generaal van Justisie, Shamila Batohi, Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging en Naledi Pandor, minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, wie almal applikante was in die aansoek om die mandamus-bevel om te keer.

“Ons hoop dat die regering sal ophou litigeer teen sy SAOG-vennote en gehoor sal gee aan die hofbevel om saam te werk en Botswana se Direkteur van Openbare Vervolging by te staan. Die enigste afleiding wat gemaak kan word uit die vertragings, soos deur die howe geïdentifiseer, is dat die Departement van Justisie, Departement van Internasionale Betrekkinge en die Nasionale Vervolgingsgesag uit hul pad gaan om sekere verdagtes teen ondersoek en vervolging in ons buurland te beskerm,” het Bateman gesê.

Soortgelyke plasings