|

Gesamentlike landbou-inkubasieprojek skop af

AfriForum, die familieboernetwerk Saai en die kantoor van Kgosi Gaboilelwe Moroka, het ’n gesamentlike inheemseveldbok-inkubasieprojek in die Barolong Boo Seleka koninkryk by Thaba’Nchu, oos van Bloemfontein in die Vrystaat afgeskop met ’n aanvangskudde van 21 Nguni-inheemseveldbokke en bokboerdery-opleiding deur Gerhard Lourens, van LGL Inheemseveldbokstoet aan plaaslike kleinboere en Kgosi Moroka en haar span. Die doel van dié projek is om plaaslike kleinboere met kennis en vaardighede toe te rus om bestaans- en kleinskaalse boerdery te ontwikkel tot winsgewende ondernemings en ook om ’n bokkudde daar te stel wat mettertyd tot ’n volhoubare bokboerdery sal ontwikkel en bokke sal lewer om verdere ontwikkelingsprojekte op voetsoolvlak te loods.

“Die waarheid is dat landbou die grondslag van menslike oorlewing is. Dit is ook deur die herlewing van landbou dat ons blywende sukses kan behaal. Dít is die sleutel tot voedselsekerheid en volhoubaarheid, en om wanvoeding, armoede en werkloosheid die hoof te bied. Hierdie veldbokprojek dien as ’n ontwikkelingspunt vir die rigting waarin ons glo bokboerdery moet beweeg in al die landelike gemeenskappe van Suid-Afrika. Ons spreek graag ons waardering teenoor AfriForum en Saai uit vir hulle voortdurende samewerking en vennootskap met die Barolong Boo Seleka in ’n poging om dié gmeenskap te bemagtig om ’n selfstandige bestaan te verseker. Ons toekoms hang van landbou af,” sê Kgosi Gaboilelwe Moroka, Kgosi van die Barolong Boo Seleka.

“Dit is vir Saai ’n voorreg om ’n verskil te maak deur bestaans- en kleinskaalse familieboere toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om hul boerderye te kommersialiseer en te moderniseer. Die ondersteuning en mentorskaprol wat ons vervul, maak dit moontlik vir hierdie familieboere om te ontwikkel tot kommersiële boere wat ’n bydrae lewer tot welvaartskepping, voedselsekerheid, ekonomiese groei en werkskepping,” voeg Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van Saai by.

“Ons is besig om ’n netwerk van selfstandige kultuurgemeenskappe op die grondslag van wedersydse erkenning en respek te vestig waarbinne gemeenskappe saamwerk om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die kinders van alle gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika te verseker. ’n Nuwe samelewingsorde gebou op die grondslag van gemeenskapsfederalisme is besig om op voetsoolvlak vorm aan te neem – dit gee ons hoop vir die toekoms aangesien dit aan interafhanklike gemeenskappe hier die geleentheid bied om gesamentlik oplossings te vind vir die uitdagings wat ons in die gesig staar,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Gesamentlike landbou-ontwikkeling- en erfenisprojekte word sedert 2022 ná die sluiting van ’n wedersydse erkennings-en-samewerkingsverdrag tussen AfriForum en die Barolong Boo Seleka met sukses aangepak. Hierdie goeie verhoudinge en samewerking is ’n herlewing van die goeie betrekkinge wat in die 1830’s tussen die Afrikaner- en Barolong Boo Seleka-kultuurgemeenskappe gevestig is.

Soortgelyke plasings