|

Pad veilig vir Konka-feesgangers ná AfriForum N4 vir ysterpenne patrolleer

AfriForum se Bronkhorstspruit en Middelburg buurtwagte het op 4 Mei die N4 in samewerking met die Bronkhorstspruit-gemeenskapspolisiëringsforum gepatrolleer om besoekers aan die Konka makietie se veiligheid te verseker. Hierdie fees het op die Laerskool Balmoral se skoolgronde plaasgevind. Tydens dié operasie was die buurtwagte hoofsaaklik op die uitkyk vir ysterpenne oor die paaie.

Hierdie inisiatief volg nadat die Laerskool Balmoral na AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwag uitgereik en versoek het dat hulle die N4 patrolleer. Dié snelweg word die laaste ruk aan weerskante van Balmoral deur gewapende bendes geteiken wat ysterpenne oor die pad pak en dan hul slagoffers aanval die oomblik wat hulle met hul voertuie oor hierdie skerp penne ry.

Tydens die patrollie tussen 19:00 en 23:00 het meer as 25 buurtwaglede minstens 4 100 km in 10 voertuie afgelê. Geen ysterpen-voorvalle is in daardie tydperk aangemeld nie en besoekers kon met ’n geruste hart die snelweg gebruik om by die huis uit te kom.

“Samewerking tussen verskeie buurtwagte en organisasies is noodsaaklik om hierdie tipe misdade suksesvol af te weer,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

“AfriForum sal aanhou om ons gemeenskappe waar moontlik te beveilig,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Inwoners word versoek om AfriForum-buurtwagte in hul omgewing te ondersteun: Klik hier.

Soortgelyke plasings