|

Krugersdorp-tak verf padmerke oor rondom skole

AfriForum se Krugersdorp-tak het op 15 Julie verskeie padmerke en -strepe rondom skole oorgeverf waartydens groot gedeeltes rondom die Laerskool Ebenhaeser en HTS N Diederichs THS aangepak is. Die projek is in samewerking met die DA en VF Plus, wat ongeveer 22 vrywilligers ingesluit het, aangepak.

Ongelukkig het ’n openbare sekuriteitsamptenaar van die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit die projek in die wiele gery wat gemaan het dat die span summier met die werk moet stop, aangesien hulle nie die nodige toestemming daarvoor het nie. Die span vrywilligers is na bewering met arrestasie gedreig indien hulle sou voortgaan. Ná gelang hiervan is die projek gestaak.

“Ons span is teleurgesteld dat ons nie die projek kon voltooi nie, aangesien dit ’n projek tot voordeel van die gemeenskap en ons skole is. Ons is egter vasberade om voort te gaan met soortgelyke projekte en sal poog om die munisipaliteit se samewerking te kry. Dit sal ons wel nie keer om projekte van stapel te stuur daar waar die munisipaliteit faal om die nodige dienste te lewer nie,” sê Pieter Joubert, tesourier van AfriForum se Krugersdorp-tak.

“Ons wil graag alle betrokkenes bedank vir hul bydraes en ondersteuning by hierdie projek en waardeer die samewerking en entoesiasme van al die vrywilligers wat deelgeneem het. AfriForum se Krugersdorp-tak is trots op die werk wat reeds gedoen is en die positiewe impak wat dit op die gemeenskap het. Ons nooi al ons lede en die breër gemeenskap uit om saam met ons te werk en die volgende projek met hernude entoesiasme aan te pak. Dié AfriForum-tak bly gedrewe om ’n positiewe verskil in die gemeenskap te maak,” sluit Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, af.

Soortgelyke plasings