|

Godsdiens in skole-saak: Skole mág godsdiens beoefen, maar nie enkele geloof bevorder nie

Openbare skole kan voortgaan met godsdiensbeoefening, maar die skool of die beheerliggaam mag nie wettiglik voorhou dat dit een enkele geloof tot uitsluiting van ander onderskryf of voorstaan nie.

Dit is ’n oortreding van die Skolewet indien ’n openbare skool een of oorwegend een geloof bevorder of sy personeel toelaat om dit te doen en ook die belange van een geloof bo die van der stel.

Dié uitspraak wat regter Willem van der Linde vandag in die saak oor godsdiens in skole in die hooggeregshof in Johannesburg gelewer het, sal in detail bestudeer moet word om oor die regspad vorentoe te besluit, sê Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.

Godsdiensbeoefening in skole is ingevolge die hofuitspraak egter nie strydig met die Grondwet nie. Indien die applikant wil aanvoer dat godsdiensbeoefening ongrondwetlik is, moet sy/haar saak gegrond wees op ’n oortreding van ’n toepaslike beheerliggaamreël of die beheerliggaamreëls moet as ongrondwetlik uitgewys word.

Van der Linde het daarop gewys dat die ses betrokke skole se beheerliggaambeleide beskikbaar gestel is en dat die applikant nie gesuggereer het dat enige van die reëls onwettig is nie.

AfriForum voel sterk oor die beginsel wat die uitspraak beklemtoon, naamlik dat ouers bestaande kanale moet gebruik om diskriminasie teen hulle kinders op godsdienstige gronde te keer. Terselfdertyd bly AfriForum by die standpunt dat ’n gemeenskap moet kan besluit oor die godsdiens etos van ’n skool.

In die uitspraak is daarop gewys dat nóg die Grondwet, nóg die Skolewet die reg aan ’n openbare skool of die beheerliggaam verleen om die etos van ’n enkele geloof te aanvaar wat ander uitsluit. Die Grondwet en wetgewing maak wel voorsiening dat verteenwoordigende liggame reëls neerlê wat godsdiensbeoefening vry, vrywillig en op ’n gelyke basis maak.

Volgens Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder van onderwyssake, word ouerbeheerliggame van openbare skole demokraties verkies. Sou hulle op ’n bepaalde godsdienstige etos vir ’n skool besluit, moet dit uitvoerbaar wees sonder om ander leerlinge uit te sluit.  Soos letterlik duisende ouers aan AfriForum bevestig het, is dit dan ook tans die geval by openbare skole.

“Die mate waarin dié reg deur die uitspraak aangetas word, sal bepaal watter verdere regsaksie die partye in die saak sal doen.”

Die saak tussen die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) wat in Mei 2017 aangehoor is, het gevolg nadat ses skole, naamlik Laerskool Randhart, Laerskool Baanbreker, Laerskool Garsfontein, Hoërskool Linden, Hoërskool Oudtshoorn en Langenhoven Gimnasium aan die einde van 2014 deur laasgenoemde organisasie weens hulle godsdienstige etos voor die hof gedaag is.

Anti-christen fundamentaliste het al in Oktober 2009 gedreig om godsdiens uit skole te probeer weer. Toe reeds het AfriForum sterk standpunt ingeneem en gesê het dat skole teen regsaksies van dié aard ondersteun sal word.  Fedsas het die ses skole in die saak verteenwoordig, met AfriForum wat die regskoste van sowat R5,8 miljoen rand dra.

AfriForum is bekommerd oor pogings van organisasies soos die Ogod en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe om godsdiensbeoefening te wil reguleer. “Sou enkelinge misbruik van godsdiens maak, moet daar teen hulle spesifiek opgetree word.  Dit kan egter nie as verskoning gebruik word om die res van die gemeenskap van hulle regte te ontsê nie,” meen Bloem.

AfriForum bestempel hierdie as ’n waterskeidingsaak. As ’n uiterse diverse gemeenskap is dit vir Suid-Afrikaners noodsaaklik om van jongs af wedersydse erkenning en respek aan te leer vir mense wie se kulture en sienswyses van hul eie verskil. Hulle moet ook leer om met hul eie identiteite gemaklik te wees, insluitend hul geloofsoortuigings.

Soortgelyke plasings