|

Jou steun is nodig om boere in nood voor Kersfees te help

Boere kry swaar. Bitter swaar. Veral diegene in die Karoo waar dit op sommige plekke in Desember 2011 laas gereën het. Ander dele in die land gaan ook steeds onder droogte gebuk.

Boere is nie mense wat sommer bakhand staan of met hul harte op hul mou loop oor die geweldige nood waarin hulle verkeer nie. Baie probeer om die enorme las op hul skouers alleen te dra.

Sedert AfriForum vroeër die Boks-vir-’n-Boervrou-projek ondersteun het, het die breër publiek ook meer bewus geraak van wat die omvang van boere in droogtegeteisterde gebiede se nood werklik is. Op talle plase was boere genoodsaak om hul kuddes te halveer of byna heeltemal tot niet te maak.

Een boer in die Williston-omgewing het vertel dat waar hy vroeër met 800 ooie geboer het. Hy het nou net 50 oor en daar is selfs nie vir hulle genoeg om te eet nie.

AfriForum het hartverskeurende verhale van boere gehoor waar daar letterlik nie meer kos op die tafel is nie en kinders se skoolgeld vir volgende jaar nie betaal kan word nie.

Hierdie werklikheid het AfriForum se takke aangespoor om mekaar uit te daag om geld te skenk vir AfriForum se noodfonds waarmee voer aangekoop en na boere versprei sal word.

Tot op hede is meer as R400 000 ingesamel. Die uitdaging staan nog en werknemers van die Solidariteit Beweging en die algemene publiek word uitgedaag om enige bydrae, hoe gering ook al, te maak om boere se nood te verlig en hierdie Kersfees ’n klein bietjie draagliker te maak.

Donasies kan inbetaal word by:

Rekeningnaam: AfriForum NPC

Rekeningnommer: 62349898398

Taknaam: FNB Centurion

Takkode: 26155

Verwysing: NOOD

Vir meer inligting besoek https://afriforum.co.za/droogte/

 

 

Soortgelyke plasings