|

Sakeman hardloop meer as 2 000 km om geld vir SA-atlete in te samel

Dave Chamberlain, sakeman en atleet van Pretoria, het vandag sy buitengewone projek voltooi om fondse in te samel en bewustheid vir Suid-Afrikaanse atlete te verhoog. Chamberlain het reeds op 3 September begin om rondtes om Loftus Versfeld te hardloop en het in 29 dae 2 173 km afgelê. Hy het R21 730 ingesamel wat vandag aan Esti Olivier, Suid-Afrikaanse vroue snelroeikampioen, oorhandig is om haar te help met haar voorbereiding vir aanstaande jaar se Olimpiese Spele.

AfriForum Sport het hierdie projek ondersteun deur R10 van die organisasie se Forum vir Atlete-fonds te skenk vir elke kilometer wat Chamberlain tydens hierdie projek gehardloop het.

Hierdie was nie net ’n persoonlike uitdaging vir Chamberlain nie, maar dit was ook om ’n beroep op die privaat sektor en individue te doen om die land se sportgemeenskap te ondersteun. Chamberlain was egter nie die enigste een wat ’n inspirerende uitdaging afgelê het oor hierdie tydperk nie. Volgens Niel du Plessis, uitvoerende hoof van Braven Performance, het Theodor Pistorius, wat twee jaar gelede 28 m in 4 min en 30 sekondes kon loop, besluit om elke dag te stap terwyl Chamberlain gehardloop het. Pistorius het altesaam 60 km in dié tydperk afgelê.

Dit is geen geheim dat Suid-Afrikaanse atlete dikwels sukkel om die nodige hulpbronne en ondersteuning van amptelike sportliggame soos Atletiek Suid-Afrika (ASA) en die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) te verkry nie. Juis daarom het Chamberlain hierdie fondsinsamelings- en bewusmakingsveldtog aangepak sodat hierdie gaping oorbrug kan word en Suid-Afrikaanse atlete in staat gestel kan word om hul volle potensiaal te bereik – veral in aanloop tot die voorbereiding vir die Olimpiese Spele.

Voorbereiding vir die Olimpiese Spele is veeleisend en duur. Baie atlete moet boonop ook dikwels deeltyds werk terwyl hulle voorberei, wat kan veroorsaak dat die atleet nie sy volle potensiaal kan bereik nie. Chamberlain wou dus met hierdie projek die huidige omstandighede te verander deur die nodige fondse te verhoog om hierdie atlete in staat te stel om uitsluitlik op hul voorbereiding te fokus.

“Die deursettingsvermoë van beide Chamberlain en Pistorius is nie net inspirerend nie, maar dien ook as ’n getuienis dat ’n mens se fisiese grense baie verder uitgedaag kan word as wat ’n mens besef,” noem du Plessis.

AfriForum Sport wil die privaat sektor, ondernemings en individue aanmoedig om Suid-Afrikaanse atlete te ondersteun. Chamberlain se inisiatief is ’n duidelike bewys dat daar nie meer op regeringsverwante liggame gewag kan word om voldoende ondersteuning aan atlete te bied nie. Die privaat sektor en ander landsburgers moet toetree om die toekoms van Suid-Afrikaanse sport daar te stel.

Hierdie projek bied nie net onmiddellike finansiële ondersteuning nie, maar stuur ook ’n boodskap uit dat die Suid-Afrikaanse sportgemeenskap verenig is in sy vasberadenheid om talent te koester, geleenthede te bied en ’n blink toekoms vir sy atlete te skep.

AfriForum Sport wil graag ook vir Braven Performance en PVM bedank dat hulle Chamberlain en verskeie ander individue ondersteun en in staat gestel het om hierdie projek aan te pak aangesien ’n projek soos hierdie nie sonder voldoende ondersteuningstrukture kan plaasvind nie.

Vir meer oor hierdie projek en om betrokke te raak, besoek AfriForum Sport se webblad. Saam kan ons verseker dat Suid-Afrikaanse atlete die nodige hulpbronne verkry om internasionaal uit te blink en hul land trots te maak in die 2024 Olimpiese Spele en daarna.

*Peters is die bestuurder van Sport by AfriForum.

Soortgelyke plasings