|

Goed, beter, Benoni! Híér is AfriForum se nasionale tak van die jaar en noordstreek buurtwag van die jaar

AfriForum se Benoni-tak is tydens die organisasie se nasionale kongres die afgelope naweek aangewys as die nasionale tak van die jaar en die Benoni-buurtwag as die noordstreek buurtwag van die jaar. Dié tak en buurtwag onderskei hulself deur uitsonderlike prestasies en onwrikbare toewyding tot gemeenskapsveiligheid en selfdoen-projekte wat ’n beduidende impak op die Benoni-gemeenskap gehad het.

Die Benoni-tak het noue samewerking met ander AfriForum-takke in die streek en neem aktief deel aan nasionale projekte en patrollies. Die tak het ook ’n beheerkamer gevestig wat die Oos-Rand-steunkring dien, met ’n kantoor en ’n klaskamer waar opleiding gereeld aangebied word.

Selfdoen is in die Benoni-tak se are en hulle leef dit ten volle uit. Dié tak het in 2024 al meer as 30 ton teer gebruik  om slaggate te herstel. Voorts het hulle ook 20 vullisdromme opgerig wat op ’n weeklikse basis deur die tak leeggemaak word. Twee noodwaterpunte is ook beskikbaar gestel om die gemeenskap te help met water in tye wanneer die krane leeg is en die tak beskik selfs oor mobiele noodwatervermoë om die gemeenskap by te staan. Die tak het ook op verskeie geleenthede die area om die Ou Benoni Raadsaal skoongemaak sodat hierdie area netjies kan wees.

Die Benoni-buurtwag spog met 100 aktiewe buurtwaglede; ’n herhaler wat deur die gemeenskap geborg is; ’n hommeltuig; kamera-beheerkamer en twee motorfietse om landelike areas vinniger te bereik in ’n noodgeval. Die hommeltuig is al per geleentheid suksesvol ingespan om die SAPD en selfs die Valke te help om ontvoerde persone en ontvoerders op te spoor. Die buurtwag het ook ’n

Oor die afgelope drie jaar het dié buurtwag 63 104 km en ’n gesamentlike 9 070 ure aan patrollies afgestaan – dít is gelykstaande aan 1 133.75 werksdae. 

“AfriForum Benoni het bewys dat hulle die kernwaardes van selfdoen en gemeenskapsbetrokkenheid volledig uitleef. Hul toewyding en vasberadenheid om hul omgewing te verbeter, maak hulle ’n steunpilaar vir die gemeenskap en hierdie toekenning is ’n welverdiende bewys van hul harde werk,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Besoek www.wordlid.co.za of kontak die tak by 084 976 1234 om betrokke te raak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te help maak.

Soortgelyke plasings