Water
|

GOP: Ingryping by dienslewering in Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit nodig

Die AfriForum-takke in Bloemhof en Christiana het onlangs hul voorstelle op die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ingedien. Hierin het die takke voorgestel dat die munisipaliteit ’n hernieude fokus op dienslewering in beide dorpe moet plaas.

Die afgelope jaar het die munisipaliteit skaars geld bestee aan herstelwerk in dié dorpe of dienslewering aan sy inwoners. In die GOP spreek die plaaslike AfriForum-takke hul kommer uit oor hierdie verval. Daar is veral bekommernisse oor watervoorsiening, aangesien inwoners dikwels vir dae lank sonder water sit. Dit terwyl talle waterpype bars en mangate gereeld oorspoel. Dringende ingryping by riool- en wateraanlegte moet ’n prioriteit vir die munisipaliteit wees. Die AfriForum-takke stel voor dat die munisipaliteit dit sy eerste prioriteit maak om die agteruitgaan te stop deur die nodige fondse beskikbaar te maak om hierdie probleme die hoof te bied. Die munisipaliteit kan selfs met die Christiana- en Bloemhof-tak hande vat om saam aan hierdie uitdagings aandag te gee.

Buiten dié probleem, is die toestand van paaie ook ’n groot bekommernis in beide dorpe.  Sommige paaie is deurtrek met slaggate, wat dit nie net moeilik maak om te gebruik nie, maar ook uiters gevaarlik maak.

Die tak het ook ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om só te begroot dat die instandhouding van parke, brandweerdienste en vullisterreine in die dorpe geprioritiseer word. Die vullisterreine het vreeslik agteruitgegaan in die laaste paar jaar en voldoen slegs aan enkele wetlike vereistes. Boonop word die vullisverwydering nie betyds gedoen nie en moet inwoners vir weke lank wag voordat dit eindelik verwyder word. Dit is daarom broodnodig dat die vullisterreine en die dienste wat hierom gelewer word, op standaard kom.

Die munisipaliteit moet ook vir die volgende tekortkominge in Bloemhof en Christiana begroot:

  • Instandhouding van begraafplase;
  • ingryping by onwettige storting;
  • instandhouding van die plaaslike kragnetwerk en;
  • herstel van straatligte.

AfriForum vereis ook dat die munisipaliteit kwartaallikse vergaderings met die takke hou om die kwessies se vordering te bespreek.

“Die GOP is die ideale geleentheid vir die gemeenskap en AfriForum-takke om hul kommentaar en voorstelle oor die munisipaliteit se beplande begroting uiteen te sit. Dit gee nie net die gemeenskap die geleentheid om hul stem te laat hoor nie, maar gee ook die munisipaliteit die geleentheid om probleme in die gemeenskap te identifiseer en op te los. AfriForum sal aanhou druk op die munisipaliteit plaas om te verseker dat hy aandag aan die probleme gee en sy grondwetlike pligte nakom,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Jy kan help om jóú omgewing te beveilig en te verbeter deur vandag nog by AfriForum betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings