|

Kaapstad-Noord se Bellville-buurtwag stormloop veiligheidsprobleme gedurende Oktober

AfriForum Kaapstad-Noord se Bellville- en omliggende buurtwagte het gedurende Oktober veiligheidsprobleme in dié gebied behoorlik gestormloop. ’n Massapatrollie, voertuigkontrolepunt en voetpatrollie is boonop op 22 Oktober in samewerking met plaaslike wetstoepassingsagentskappe en veiligheidsorganisasies aangepak om onder meer sigbare polisiëring en algehele veiligheid te verhoog. ’n Algemene patrollie is ook op 28 Oktober – kort voor die Wêreldbekereindstryd – onderneem.

Volgens Johan Crous, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Weskus, het die onderskeie buurtwagte met hierdie reeks aktiwiteite hul toewyding aan ’n veiliger gemeenskap ten toon gestel.  

Oktober se veiligheidsoperasies het onder meer uit die volgende elemente bestaan:

  • Massapatrollie: Kaapstad-Noord se Bellville- en buurtwaglede van die omliggende gebiede het byeengekom vir ’n massapatrollie om veiligheidskwessies in die gebied op ’n proaktiewe wyse te takel.
  • Voertuigkontrolepunt (VCP): ’n Omvattende voertuigkontrolepunt is opgestel om nakoming van verkeersreëls te verseker en kriminele aktiwiteite af te skrik. Nagenoeg R30 000 se boetes is tydens dié VCP uitgereik. ’n Verdagte is ook tydens die operasie aangekeer vir die besit van dwelms en diefstal uit ’n motorvoertuig.
  • Voetpatrollie: Gemeenskapslede het Bellville se sentrale besigheidsdistrik en die Voortrekkerkorridor te voet gepatrolleer.

“Die operasies was uiters suksesvol en die samewerking tussen die gemeenskap, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Stad Kaapstad se metropolisie en verkeersdepartement sowel as verskeie veiligheidsmaatskappye toon die noodsaaklikheid én sukses van ’n geïntegreerde veiligheidsbenadering,” verduidelik Crous. 

AfriForum bedank alle wetstoepassingsorganisasies sowel as die volgende sekuriteitsmaatskappye en -organisasies wat ’n deurslaggewende rol in die sukses van dié veiligheidsoperasies gespeel het, naamlik: Civil Defence Force (CDF Security), Fidelity ADT, Bassett Burglar Alarms, Boston Community Improvement District (Boston CID), Voortrekker Road Corridor Improvement District (VRCID) en Zonewatch.

Die publiek word aangemoedig om betrokke te raak by hul naaste AfriForum-tak. Kontak Yollanda Fritz, projekbestuurder van die AfriForum Kaapstad-Noord Belville-tak, by 066 306 5688 om by dié tak in te skakel.

Soortgelyke plasings