|

Coligny-tak rig aanmaning aan Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit

Die AfriForum-tak in Coligny het op 24 Maart ’n aanmaningsbrief aan die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit gerig om druk op dié munisipaliteit uit te oefen om die onvoltooide rioolstelsel klaar te maak.

AfriForum eis dat die munisipaliteit die nuwe rioolstelsel binne drie maande moet voltooi en ’n gesonde omgewing vir die inwoners van die dorp moet skep en behou.

Die tak het vroeër ’n petisie teen die onvoltooide rioolstelsel in Colighy geloods, wat radelose inwoners steeds kan onderteken.

Coligny se rioolstelsel bestaan nog uit sinkslote (Engels: French drains) en septiese tenks. Die munisipaliteit het in 2020 met die opgradering van die rioolstelsel begin en was veronderstel om dit teen Junie 2021 te voltooi, maar die opgradering is egter steeds nie klaar nie.

“Die munisipaliteit hou nie die rioolstelsel in stand nie en versuim dikwels om die septiese tenks by huise en ondernemings leeg te pomp. Dit lei daartoe dat riool in die strate vloei wat ’n reusegesondheidsrisiko vir die inwoners inhou. Dit is van kardinale belang dat ons die nodige druk op die munisipaliteit plaas sodat hulle die opgradering van die rioolstelsel so vinnig as moontlik voltooi,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Teken die petisie deur vir Frans Gerber te kontak by 083 287 6487 of vir ds. Tewie Pieters by 078 611 2214. Die petisielys sal  aan die munisipale bestuurder gestuur word om verdere druk toe te pas.

Soortgelyke plasings