|

Groblershoop in rou riool gedompel; ernstige gebrek aan dienslewering

Slaggate, gereelde krag- en wateronderbrekings en vullis wat die wêreld vol lê. Dít is sommige van die probleme wat die inwoners van Groblershoop in die gesig staar. Dit is egter nie hierdie Noord-Kaapse dorpie se grootste hoofpyn nie. Rou riool kan gereeld in velde en selfs watermassas in en om die dorp gewaar word. Dít is omdat die !Kheis Plaaslike Munisipaliteit riool in die gebied stort.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, lê daar rou riool in poele in en om die dorp. Munisipale werkers het selfs aan AfriForum erken dat hulle aangesê is om só van hierdie riool ontslae te raak. “Selfs die infrastruktuur wat riool na die rioolwerke pomp is selde in ’n werkende toestand omdat dit gebuk gaan onder vandale. Dit is dan wat die riool opdam en die omgewing besoedel,” sê Strauss.

Benewens die gereelde besoedeling wat plaasvind is die swak instandhouding van paaie en vullisterreine in Groblershoop ook ’n probleem. Huishoudelike vullis word nie verwyder nie, wat beteken dat vullis lukraak in die strate en buite die dorp gestrooi word. Die dorp word boonop gereeld met krag- en wateronderbrekings geteister omdat die munisipaliteit nie sy kragrekening aan Eskom vereffen nie.

“Die munisipaliteit versuim om sommige van sy belangrikste pligte teenoor die gemeenskap na te kom. Dienslewering op hierdie dorp is uiters swak en kan nie geduld word nie, daarom eis AfriForum dringend optrede in sy jongste skrywe aan die munisipaliteit,” sê Strauss. “Die munisipaliteit het sewe dae om met ’n werkbare oplossing vir hierdie gebreke vorendag te kom. Intussen staan AfriForum by om verdere stappe teen die munisipaliteit te doen indien daar nie wesenlike verandering teweeg gebring word nie.”

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak: Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings