|

Groot stryd kom indien Bela-wet deurgevoer word

Die boodskap van Solidariteit Onderwysnetwerk se Bela-beraad was duidelik dat ’n aanslag op Afrikaanse skole deur middel van die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wet) ’n aanslag op Afrikaanse gemeenskappe is en dit sal tot in die hoogste hof en selfs in die buiteland beveg word.

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, het gisteraand op die beraad die belangrikheid van moedertaalonderrig beklemtoon en het gesê die Bela-wet hou ’n ernstige bedreiging vir moedertaalonderrig in. “Dis oor en oor bewys dat moedertaalonderrig selfs tot op tersiêre vlak groot voordele vir leerders inhou. ’n Mens leer makliker in jou moedertaal en is meer geneig om langer aan te hou leer wat uiteindelik tot beter geleenthede en ’n beter lewenstandaard lei. Dis eintlik die staat se plig om die taalregte van minderheidsgroepe te beskerm. Ons het reeds gesien wat met Afrikaanse universiteite gebeur het en ons kan nie toelaat dat dieselfde met ons skole gebeur nie.”

Bailey het verder gesê die onverdraagsaamheid teenoor ’n taal is eintlik die onverdraagsaamheid teenoor die mense wat die taal praat. Dit lei dikwels tot konflik wat ernstige gevolge kan inhou.

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), meen daar is ’n paar klousules in die Bela-wet wat gevaarligte laat flikker. “Die Bela-wet sal die besluitneming oor openbare skole se toelatings- en taalbeleid uit die hande van die beheerliggaam neem en in die hande van ’n amptenaar plaas wat min of selfs niks van die skool se behoeftes weet nie. Dié amptenaar kan selfs ’n kader wees wat met politieke of ideologiese motiewe optree.”

Deacon het verder gesê skole sal met die Bela-wet beheer verloor oor verkrygings en aankope. As die staat beheer oor hierdie proses oorneem, skep dit die geleentheid om die krane van korrupsie en bedrog wyd oop te draai. Volgens Fedsas se navorsing is 80% van openbare skole wanfunksioneel, maar Afrikaanse skole vaar oor die algemeen nog baie goed.

“Die sleutel tot ’n skool wat goed funksioneer is ’n sterk beheerliggaam en ’n goeie skoolhoof. Verkiesings vir beheerliggame vind in Maart plaas en dis belangrik dat ouers hieraan deelneem en goeie kandidate verkies,” het Deacon gesê.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas)

Openbare skole is tans onderhewig aan die Skolewet wat ná ’n onderhandelingsproses in 1994 aanvaar is en sedert 1 Januarie 1997 gebruik word. Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die ANC-regering met die Bela-wet besig om dié 1994-ooreenkoms te verbreek.

“Die ANC wil in werklikheid openbare skole in staatskole omskakel, wat hierdie ooreenkoms verbreek. Die regering het nie genoeg skole gebou nie en nou wil hulle Afrikaanse skole waar ouers hul pligte ernstig opgeneem het om uitnemende skole te bou, kaap. ’n Openbare skool vloei vanuit die gemeenskap en die gemeenskap neem besluite ten gunste van die skool. Die Bela-wet is net nog ’n poging van die ANC-regering om mag op die vlak van onteiening of nasionalisering te sentraliseer wat tot die verval van onderrig sal lei.”

Hermann het gesê alle ouers en belanghebbendes moet hulle stem dik maak teen hierdie wet en by elke moontlike geleentheid daarteen baklei.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

Openbare verhore vind tans in verskeie provinsies plaas waar belanghebbendes hul besware teen dié omstrede wet kan aanteken. Die publiek word aangemoedig om hierdie verhore by te woon. Besoek www.stopbela.co.za om te sien wanneer ’n verhoor in jou omgewing plaasvind of om jou steun aan AfriForum se stryd teen die Bela-wet te gee.

Soortgelyke plasings