|

Privaatvervolgingseenheid sorg dat vlootoffisier vervolg word vir botsing wat vrou eis

Keamogetswe Khunofo, ’n vlootoffisier, was vandag weer in die Vredenburg-landdroshof –  20 maande ná ’n saak van strafbare manslag teen hom van die rol geskrap is weens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se versuim om die ondersoek te finaliseer. Ná volgehoue druk van AfriForum se privaatvervolgingseenheid is die saak egter weer op die rol geplaas. Khunofo was verantwoordelik vir ’n botsing wat Michelle de Clerck se lewe in November 2021 geëis het.

Die privaatvervolgingseenheid se toetrede tot dié saak het ook daartoe gelei dat dissiplinêre stappe teen twee polisielede gedoen is vir hulle hantering van hierdie saak.

De Clerck is op 9 November 2021 deur Khunofu doodgery toe sy ’n straat in Saldanha oorgesteek het. Daar word beweer dat Khunofu roekeloos en onder die invloed van drank bestuur het ten tyde van die voorval. Ooggetuies beweer dat Khunofu teen ’n ander kar resies gejaag het in die besige straat. Khunofu was toe ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch se Fakulteit vir Militêre Wetenskap by die Saldanha Militêre Vlootbasis.

Elmarie de Clerck, die slagoffer se ma, het die privaatvervolgingseenheid in Junie 2022 genader toe die saak van die rol geskrap is. Die saak is voorheen keer op keer uitgestel as gevolg van verskeie redes wat met die ondersoek verband hou – soos die bloed-alkohol-uitslae en forensiese verslae wat nie voltooi is en in die dossier saamgevat is nie. Die privaatvervolgingseenheid het die speurtakbevelvoerder van die Saldanha SAPD genader wat eers behulpsaam was en later ontegemoetkomend geraak het en eenvoudig e-poskorrespondensie geïgnoreer het.

In Maart verlede jaar het die privaatvervolgingseenheid ’n diensklag teen die ondersoekbeampte en sy takbevelvoerder ingedien. Die SAPD het bevestig dat dissiplinêre stappe teen die ondersoekbeampte gedoen word vir swak ondersoekwerk en teen die takbevelvoerder vir sy optrede jeens die privaatvervolgingseenheid.

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dat die mislukkings van die SAPD verdere skade aan die De Clerck-familie gerig het. “Daar moet gevolge wees vir die polisiebeamptes wat hul grondwetlike verpligtinge versaak het om misdade te ondersoek en in diens van die samelewing se belange – veral slagoffers se belange – op te tree. Sonder die ingryping van die privaatvervolgingseenheid sou hierdie ondersoek nooit afgehandel geword het nie en die familie wat in rou gedompel is sou nooit die geleentheid hê om afsluiting te kry nie. Die eenheid sal voortgaan om hierdie saak te moniteer en toe te sien dat geregtigheid geskied.”

Elmarie de Clerck het die verrigtinge bygewoon. “Ek is dankbaar vir AfriForum se betrokkenheid en dat hulle dit reggekry het dat die saak weer op die rol geplaas is. Ons hoop dat geregtigheid sal seëvier,” sê sy.

Die saak is uitgestel tot 15 April.

Soortgelyke plasings