|

Hartbeespoort-tak blus vlamme

Die AfriForum-tak in Hartbeespoort se brandbestrydingseenheid het op 6 Oktober omstreeks 20:00 binne minute op die toneel van ’n brand, wat in Ou Wapad langs ’n motorhandelaar aangemeld is, opgedaag. ’n Wendy-huis het aan die brand geslaan en die vuur het vinnig versprei.

“Die feit dat die naaste brandweerstasie in Brits is, beteken dat die vuur al ver kon versprei teen die tyd wat hulle daar aankom. Dit is hoekom dit belangrik is om ’n span te hê wat op ’n gereedheidsgrondslag is om bystand vir die brandweer te lewer, of self die vuur te blus indien moontlik. Ons is dankbaar vir AfriForum se Hartbeespoort-tak se brandbestrydingseenheid  wat dadelik kon ontbied word en die vuur geblus het voordat dit verder kon versprei,” sê  Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

“Binne 30 minute is die brand geblus, wat gevolglik ’n huis gered het wat in gevaar was,” sê Romano van der Spuy, voorsitter vir Hartbeespoort se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). “Baie dankie aan die AfriForum-lede en almal wat gehelp het om die brand onder bedwang te bring.”

Dít is die tweede brand in minder as ’n week in ’n woonbuurt. ’n Huis het verlede week in ’n landgoed in Melodie aan die brand geslaan.

“Die gebrek aan brandbestrydingsdienste in Hartbeespoort is al ‘n geruime tyd ’n groot bekommernis. Die naaste brandweer is die Madibeng-brandweer in Brits en wanneer ’n brand in ’n woonbuurt ontstaan, is reaksietyd van uiterse belang. AfriForum se Hartbeespoort-tak het ’n ruk gelede twee waterkarre en toerusting bekom en probeer tans fondse insamel vir nog ’n waterkar, toerusting en opleiding. Die gemeenskap word versoek om hierdie inisiatief te ondersteun om te verseker dat spoedige brandbestrydingsdienste beskikbaar is,” sê Nelis Janse van Rensburg, veiligheidsbeampte van die Hartbeespoort-tak.

Om hierdie inisiatief te ondersteun, kontak Nelis Janse van Rensburg by 079 950 1750.

Soortgelyke plasings