|

Wenners van AfriForum se Dink of Sink-debatskompetisie 2022 bekend!

Die afgelope naweek het die nasionale eindstryd van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie in Centurion plaasgevind. Die vier beste junior en vier beste senior spanne uit die verrenoord-, noord-, sentraal- en suidstreek van die land het onderskeidelik hier teen mekaar te staan gekom om die wenners in beide kategorieë te bepaal.

Vanjaar het Helpmekaar Kollege se Thea Kotzé, Emile du Toit en Danielle Wilkinson as wenners in die junior kategorie getriomfeer. In die senior debatsgroep was die Afrikaanse Hoër Meisieskool se Miné Hermann, Megan Jones en Megan Kruger die wenners. Hul pryse word deur AfriForum en Akademia geborg en Akademia het ook die lokale by koshuis@Leriba, waar die finale uitdunne en eindstryde plaasgevind het, geborg.

AfriForum bied die afgelope sewe jaar hierdie uiters suksesvolle nasionale debatskompetisie aan. Dit moes in 2020 en 2021 weens die Covid-19-inperking virtueel plaasvind, maar vanjaar is dit uiteindelik weer in die oorspronklike formaat gehou. Deelnemers van skole regoor die land het in rekordgetalle ingeskryf vir die streeksuitdunne en die woord beter as ooit gevoer!

Volgens Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, gee dit hoop vir die toekoms om hierdie jongmense so flink op hul voete te sien dink en hulle weldeurdagte argumente te hoor. Hy het lof uitgespreek vir die onderwysers en hoofde van skole wat vir kinders die geleentheid bied om aan kompetisies van dié aard deel te neem en hulle voorspoed toegewens met hulle kernbelangrike taak om leiers van môre te mentor.

Die beoordelaars van die finale junior en senior debat was verteenwoordigers van drie van die gasheerskole van die kompetisie se streeksuitdunne, naamlik mnre. Martin Botha (hoof van die Hoërskool Montana), Gert Visser (onderwyser by die Hoërskool DF Malan) en Ernest Swanepoel (onderwyser by die Hoërskool Merensky). Kriel en Daniël Eloff (prokureur van Hurter Spies Ingelyf en mede-organiseerder van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir studente) het by hulle aangesluit.

“Skoledebat is so gesond en mededingend soos altyd en berei ’n generasie van jong leiers vir die toekoms voor,” het Eloff na afloop van die kompetisie gesê.

Organiseerders Alana Bailey en Nicolene Müller van AfriForum het al die deelnemers, onderwysers, afrigters, beoordelaars, voorsitters en tydhouers, asook in die besonder die gasheerskole bedank vir hulle insette wat van vanjaar se kompetisie so ’n sukses help maak het. “Ons kan nie wag vir 2023 nie en nooi skole wat belangstel om deel te neem, of betrokke te raak, om ons te kontak by debat@afriforum.co.za.”

Insetsels oor die uitdunne en finaal sal op AfriForumTV beskikbaar wees en die streeks- en nasionale finale sal ook op die webtuiste www.dinkofsink.co.za  te siene wees.

Die volledige uitslae is:

Junior kategorie:

  1. Helpmekaar Kollege (noordstreek- en nasionale wenners)
  2. Hoër Meisieskool Bloemhof (suidstreek- en nasionale naaswenners)
  3. C&N Sekondêre Meisieskool Oranje (sentraalstreekwenners)
  4. Hoërskool Louis Trichardt (verrenoordstreekwenners)

Senior kategorie:

  1. Afrikaanse Hoër Meisieskool (noordstreek- en nasionale wenners)
  2. Hoërskool Durbanville (suidstreek- en nasionale naaswenners)
  3. Hoërskool Pietersburg (verrenoordstreekwenners)
  4. C&N Sekondêre Meisieskool Oranje (sentraalstreekwenners)

Soortgelyke plasings