|

Hartbeespoort-tak dien strafregtelike klag in teen Madibeng Plaaslike Munisipaliteit

AfriForum se voorsitter van die Hartbeespoort-tak, Dennis Webster, het op 25 Julie ’n strafregtelike klag by die Hartbeespoortdam-polisiekantoor ingedien teen die waarnemende munisipale bestuurder van die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit, Sello Maroga.

Dit volg nadat dié tak reeds op 13 Julie ’n aanmaningsbrief aan Maroga gestuur het oor ’n sloot wat gegrawe is om riool na die Hartbeespoortdam toe te kanaliseer en ’n mangat waarvan die oorvloei ook in die dam inloop.

Die aanmaningsbrief het gestipuleer dat die onwettige rioolstorting en oorvloei onmiddellik gestaak moet word en dat die munisipaliteit voor 17 Julie ’n aksieplan vir die voorkoming van verdere besoedeling moet uiteensit. Verder het dié tak geëis dat ’n vergadering tussen die munisipaliteit en AfriForum gereël moet word. Geen aksieplan is egter ontvang nie, daarom het die tak op 20 Julie ’n brief aan die provinsie gestuur om in te tree, maar tot op hede is nog geen terugvoer ontvang nie.

“Ons is nou verby die punt om aan te hou vra as ons geen antwoorde ontvang nie. Dit is belangrik dat die munisipaliteit verantwoordelikheid neem en hul verpligtinge nakom teenoor die gemeenskap wat hulle dien,” sê Webster.

“Die feit dat daar geen reaksie van die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit was nie, wys hoe min hulle vir die inwoners en die omgewing omgee. Ons sal nie toekyk hoe die omgewing verwoes word nie. Ons vertrou dat die Hartbeespoortdam-polisiekantoor dié saak verder sal ondersoek en ons sal self ook die saak fyn dophou om te verseker dat geregtigheid geskied,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

Om hierdie inisiatief te ondersteun, kontak Dennis Webster by 082 435 5636.

Soortgelyke plasings