|

Geen twyfel oor inheemse status van Afrikaans nie, maar wel oor bevoegdheid van Nzimande

Die burgerregteorganisasie AfriForum meen dat die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande, se traagheid om sy fout oor die inheemsheid van Afrikaans reg te stel, ’n kommerwekkende kwaadwillige ingesteldheid jeens die taal en haar sprekers bewys. Verder skep dit die vals indruk dat Nzimande se goedkeuring nodig is vir Afrikaans se status as inheemse taal. Nzimande het naamlik in antwoord op ’n vraag van die DA genoem dat die ontkenning van Afrikaans as inheemse taal eers later vanjaar in die taalbeleidsraamwerk vir openbare hoëronderwysinstellings reggestel sal word.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, was daar buiten by Nzimande nog nooit twyfel oor die inheemse aard van die taal nie. Ongelukkig skep die debat daaroor ’n vals indruk by die publiek oor die aard van die taal, in plaas daarvan dat op Nzimande se moedswilligheid om feite te erken en reg te stel, gefokus word.

“As daar enige twyfel oor die regsgronde vir die erkenning van Afrikaans as inheemse taal was, is dit deur die uitspraak van die Konstitusionele Hof in die Unisa versus AfriForum-saak uit die weg geruim. By verskeie geleenthede het ministers van Basiese Onderwys en Kuns en Kultuur die inheemse status bevestig. Geografies en histories is die taal duidelik inheems – dit het op eie bodem ontstaan en tot hoëvlak status ontwikkel. Internasionaal het kundiges op die gebied van taal duidelikheid hieroor.”

“Net soos wat een swaeltjie nie ’n somer maak nie, kan ’n enkele minister nie ’n taal se status bepaal nie. Die gekibbel oor die status van die taal kan egter wel die minister se ideologiese onderrok laat uithang en vrae laat ontstaan oor sy bevoegdheid om sy amp te beklee,” het Bailey bygevoeg.

Soortgelyke plasings