|

AfriForum besoek Bloemhof Gekombineerde Skool as deel van teenboelie-en- selfdoodbewusmakingsveldtog

AfriForum se juniorjeugleierskapsontwikkelingspan het op 22 Oktober die Bloemhof Gekombineerde Skool besoek om ’n praatjie te lewer oor selfdoodvoorkoming as deel van dié burgerregteorganisasie se teenboelie-en-selfdoodbewusmakingsveldtog.

Die praatjie handel oor die sensitiewe onderwerp van selfdood en die voorkoming daarvan. Besprekingspunte binne die praatjie sluit in: waarskuwingstekens, statistieke, waarom mense selfdood pleeg en hoe om met iemand te praat wat selfdood oorweeg. Die praatjie word afgesluit deur ’n uitnodiging aan onderwysers en beheerliggaamslede te rig om ’n selfdoodvoorkomingsnetwerk in die dorp te stig.

“Die jeug is ons toekoms. Dit is vir AfriForum ’n voorreg om deel te wees van ’n inisiatief wat ’n verskil maak. Ons bemagtig die jeug, ons bring hoop en ons maak ’n verskil in die lewens van ons jongmense. Dit is ’n groot voorreg maar ook ’n groot verantwoordelikheid,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

“Die jaar 2020 was erg genoeg om te beleef, maar om hom te oorleef het jy beslis ’n vangnet nodig. Dit is presies wat AfriForum en die Bloemhof Gekombineerde Skool vir ons leerders wil skep. Baie dankie vir hierdie uiters sinvolle aanbieding. Ons kinders is die hartklop van môre en om hulle in moeilike omstandighede te dra is bitter nodig,” sê Weideman Coertze, hoof van die Bloemhof Gekombineerde Skool.

“Dit is vir AfriForum nie net belangrik om op bewusmaking van boeliegedrag te fokus nie, maar ook op die uitwerking daarvan, soos depressie en selfdood. Ons doel is om skole en gemeenskappe te bemagtig met die nodige kennis en vaardighede om boeliegedrag en gedagtes van selfdood hok te slaan,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir juniorjeugleierskapsontwikkeling.

Elke jaar pleeg sowat een miljoen mense selfdood. Wêreldwyd sterf daar elke 40 sekondes iemand as gevolg van selfdood. Dit is die tweede hoofoorsaak van sterftes in die ouderdomsgroep 5–19 jaar. Suid-Afrika se beraamde selfdoodsyfer van 13,4 mense per 100 000 is ongeveer vier keer die wêreldkoers van 3,6 per 100 000. Elke dood is ’n tragedie vir familie, vriende en kollegas.

Tog kan selfdood voorkom word. AfriForum doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om bewese selfdoodvoorkomingstrategieë op ’n volhoubare wyse in die nasionale gesondheids- en opvoedingsprogramme op te neem. Selfdoodvoorkoming en -intervensie is noodsaaklik binne enige geestesgesondheidsprogram en dit moet ’n hele skoolbenadering behels wat bewusmaking en opleiding vir personeel en leerlinge insluit.

Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings