| | |

Hartswater-aanval: AfriForum-buurtwagte, SAPD en gemeenskapstrukture arresteer plaasmoordverdagtes

Die burgerregteorganisasie AfriForum is diep bedroef oor die moord op drie mense op ’n plaas buite Hartswater in die Noord-Kaap. Hoewel daar eers gister (27 Julie) op die moordtoneel afgekom is, dui alle indikasies daarop dat die aanval reeds Sondag 26 Julie 2020 plaasgevind het en dat die drie slagoffers ontvoer is of, in die ergste geval, hul liggame van die misdaadtoneel verwyder is. Terselfdertyd is AfriForum trots daarop dat sy Hartswater- en Vryburg-buurtwag die plaaslike polisie en ander gemeenskapsveiligheidstrukture gisteraand suksesvol ondersteun het tydens die soektog na sowel die slagoffers as die verdagtes.

AfriForum se Hartswater-buurtwag het net voor 23:00 gisteraand ’n verdagte voertuig op die pad opgemerk en dit aan die nasionale beheerkamer gerapporteer. Ná verskeie kontroles met behulp van die SAPD is daar vasgestel dat die nommerplate op die voertuig vervals is en nie bestaan nie. Die plaaslike polisie is gekontak vir bystand, waarna die voertuig afgetrek en vier verdagtes in hegtenis geneem is. Die verdagtes het uiteindelik die ligging van een van die slagoffers se liggame uitgewys. As gevolg van die rowwe terrein en donkerte kon hulle ongelukkig nie die ligging van die ander twee liggame vind nie. Die soektog na die ander twee liggame het steeds voortgeduur tydens die skryf en uitreiking van hierdie mediaverklaring.

“Aangesien Hartswater op die grens tussen die Noord-Kaap en Noordwes geleë is, het die Vryburg-buurtwag en sy protospan ook op die noodroep gereageer en hul hommeltuig saamgeneem om met die soektog te help. Doeltreffende kommunikasie tussen die span wat die hommeltuig beheer het en ander spanne op die grond het geweldig tot die sukses van die soektog bygedra. Hierdie is ’n fantastiese, dog tragiese, voorbeeld van hoe gemeenskappe mekaar kan ondersteun in tye van nood en help om mekaar veilig te hou,” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.

“Hoewel ons buurtwaglede in ’n mate gelukkig was om die verdagte voertuig te identifiseer, moet ’n mens nie die belangrikheid van al die ander gemeenskapsveiligheidstrukture en die SAPD onderskat nie. Dit was spanwerk wat daartoe gelei het dat antwoorde binne 48 uur vandat die misdade gepleeg is aan geskokte en getraumatiseerde familielede verskaf kon word,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se waarnemende hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek.

AfriForum, sy werknemers en vrywilligers betuig hul innige meegevoel aan die familie. Die organisasie se Traumaondersteuningseenheid sal hulle ondersteun soos nodig en versoek word. Die organisasie doen weer eens ’n beroep op gemeenskappe reg oor Suid-Afrika om hulself in buurtwagte te organiseer. Enigiemand wat ons hulp hiermee benodig, is welkom om ’n e-pos te stuur na veiligheid@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings