|

Heilbron se randstene en padmerke kry nuwe lagie verf

Danksy ’n lid van die gemeenskap het die AfriForum-tak in Heilbron ’n kontrakteur aangestel wat weekliks help om hierdie Vrystaatse dorpie op te knap. Die gemeenskapslid betaal die kontrakteur vir die goeie werk wat hy verrig. In Augustus is Kerkstraat skoongemaak en die randstene is wit en swart geverf; die padmerke by die vierrigtingstopstraat is geverf; en by die skool in Stoffel Nelstraat en in Piercestraat is daar ook padmerke by die stopstraat geverf. Die veld tussen die hospitaal en Kerkstraat is ook skoongemaak.

Intussen word die gholfspelers in die gemeenskap herinner aan die gholfdag op 4 November ten bate van die AfriForum-tak in Heilbron. Jy kan onder meer saam met Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, Raymond Hohls, AfriForum se hoof van Veiligheid, en Corné Cronje, AfriForum se bestuurder van Gemeenskapstrukture, gholf speel. Dit beloof om ’n heerlike, gesellige dag te wees met lekker pryse op die spel. Plek is beperk, kontak vir Gerrie Muller by 083 620 7018 om deel te neem.

“Elke klein bietjie wat die tak doen, maak ’n baie groot verskil. Dit sal net nóg beter wees as die inwoners betrokke raak dan kan die regrukproses baie vinniger gebeur,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by Heilbron se AfriForum-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak: Kontak Paul Berg by 081 354 3073.

Soortgelyke plasings