|

AfriForum staan in Appèlhof op teen EFF se “Kill the Boer”-dreunsang

Die burgerregteorganisasie AfriForum is vandag in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein om te appelleer teen die uitspraak van die Gelykheidshof wat bevind het dat die “Kill the Boer”-dreunsang nie haatspraak is nie. AfriForum se standpunt is dat hierdie dreunsang ’n duidelike voorbeeld van haatspraak is en dat dit die boere in Suid-Afrika in gevaar stel.

Op 17 Augustus 2023 is ’n egpaar van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal op hulle plaas aangeval. Hulle is ernstig aangerand terwyl hul aanvallers “Kill the Boer, kill the farmer” geskree het. Die vroue slagoffer is met ’n spies gesteek, maar gelukkig het die egpaar dié aanval oorleef. Ses verdagtes, insluitend diegene in die ontsnappingsvoertuig, is vasgetrek te danke aan die vinnige reaksie van die plaaslike plaasgemeenskap en gemeenskapsveiligheidstrukture. Hierdie onlangse voorval bewys die erns van AfriForum se hofstryd teen die “Kill the Boer”-dreunsang.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat hierdie week se hofsaak deel vorm van AfriForum se driebeenstrategie om Malema se ekstremistiese, haatlike en gevaarlike retoriek teen te staan deur regsaksie, die mobilisering en uitbreiding van gemeenskapsveiligheidstrukture en die bevordering van wedersydse erkenning en respek tussen kultuurgemeenskappe.

“Dit is kommerwekkend dat daar steeds mense is wat verskonings maak vir die haatlike ‘Kill the Boer’-dreunsang. Dit is egter duidelik dat die publiek se opinie drasties begin draai teen skurke soos die EFF en hulle aanhitsing van onwettigheid, haat en geweld. Dit is bemoedigend dat elke ordentlike Suid-Afrikaner saam met AfriForum staan in hierdie stryd,” sluit Kriel af.

AfriForum moedig die publiek aan om hulle ondersteuning in die stryd teen Malema se haatspraak te wys by www.stopmalema.co.za.

Soortgelyke plasings