|

Waarnemende regter spring vervolging vry in padwoedesaak

Die neiging tot selektiewe vervolging ken geen einde nie – en waar dit dikwels politici is wat teen vervolging beskerm word, is dit hierdie keer ’n senior lid van die regsgemeenskap. AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree op namens Conrad Pretorius wat in die keel en bobeen gesteek is en lewensgevaarlike beserings opgedoen het. Die verdagte in dié saak is ’n waarnemende regter en ’n senior advokaat van Pretoria. 

Pretorius en sy vrou het op 1 Augustus vanjaar in Menlopark gery toe hulle die advokaat teëgekom het by ’n kruising waarvan die verkeerslig buite werking was. ’n Insident het na bewering plaasgevind waarna die advokaat Pretorius nagenoeg 5 km ver deur die buurt se strate agterna gejaag het en hom uiteindelik in ’n doodloopstraat vasgekeer het. Pretorius en die advokaat het hul voertuie verlaat en ’n konfrontasie het plaasgevind. Pretorius beweer dat die advokaat hom met ’n skerp voorwerp in die keel gesteek het, waarna ’n worsteling gevolg het en Pretorius ook in die bobeen gesteek is. Pretorius het daarin geslaag om sy voertuig te bereik en het na die naaste hospitaal gery vir mediese behandeling.

Pretorius is in die hospitaal opgeneem en sowat ’n week later ontslaan. Tydens sy hospitalisasie het hy ’n kriminele klag van poging tot moord teen die advokaat aanhangig gemaak, maar het kort daarna bewus geword daarvan dat die advokaat op sy beurt ’n kriminele klag teen Pretorius ingedien het. Ten spyte daarvan dat die advokaat na bewering, soos meegedeel deur ’n lid van die ondersoekspan, gearresteer en in aanhouding was in die aanhoudingselle van die Hatfield-landdroshof, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die saak teen die advokaat teruggetrek sonder dat hy verskyn het. Die saak teen Pretorius, wat wel verskyn het, is egter vir verdere ondersoek uitgestel na 14 September 2023.

Pretorius voer ook aan dat die advokaat se regsverteenwoordiger, in samewerking met die ondersoekbeampte, gepoog het om hom te intimideer om in te stem dat die sake wedersyds teruggetrek word.

Uittreksels uit adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, se brief aan die NVG:

  • “The suspect’s lawyer and the police investigator attempted at the Brooklyn Police Station to have both matters withdrawn. They have now succeeded in ‘convincing’ the prosecutor to abandon the prosecution of a prima facia case of attempted murder against [the advocate].”
  • “The steps taken to make this matter go away are in vain. Our instructions are that our client rightfully demands prosecution and action against the suspect, […] and the functionaries who made the irrational decision.”
  • “We accept that this irrational decision will be reconsidered but hold instruction to consider a private prosecution should the NPA decline to do so. We shall approach the NPA for a certificate nolle prosequi at the appropriate time.”
  • “The NPA owes society an exposition that will engender trust that those transgressors with political connections will not be sheltered from prosecution, and neither will your stature in the legal fraternity unduly protect you from prosecution.”

Soortgelyke plasings