|

AfriForum help Skaak SA met hofsaak teen onregmatige skorsing

Die burgerregteorganisasie AfriForum en Skaak SA was vandag in die Pretoriase Hooggeregshof oor die onregmatige skorsing van Skaak SA vroeër vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASKOK). AfriForum help Skaak SA om hierdie onregmatige skorsing in die hof ter syde te stel sodat die regte prosedures gevolg kan word in die toekoms.

SASKOK het op 29 September twee nuwe beëdigde verklarings ingedien as deel van hul bewysstukke in dié saak. Hierdie stukke was die hoof bespreking in vandag se verrigtinge aangesien Skaak SA se regspan nie voldoende geleentheid gekry het om op hierdie stukke voor te berei en daarop te reageer om dit te weerlê nie.

Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, voer aan dat hierdie inligting wat op so ’n laat stadium deur SASKOK ingedien is net nóg ’n vertragingstaktiek van SASKOK se kant af is. “SASKOK weet dat die inhoud van hierdie saak ernstige implikasies vir hulle inhou en hul sal op hierdie stadium enigiets doen om die saak te vertraag,” sê Peters.

AfriForum veroordeel die wanbestuur van sportfederasies en beheerliggame van alle sportsoorte in Suid-Afrika ten sterkste, omdat dit ’n ingrypende impak het op die rol wat sport behoort te speel in die ontwikkeling en bemagtiging van gemeenskappe.

Die saak is uitgestel en Skaak SA se regspan is geleentheid gegun om teen 13 Oktober te reageer op die beëdigde verklarings wat deur SASKOK se regspan ingedien is. Dié bevel gun die partye ook die geleentheid om die Adjunk Regter President te nader om ’n spesiale hofdatum vir hierdie saak te kry.

Soortgelyke plasings