|

Helpende Hand Studietrust gee R50 miljoen vir studente-opleiding in 2022

Meer as ’n duisend voornemende studente se drome sal in 2022 bewaarheid word met R50,3 miljoen wat die Solidariteit Helpende Hand Studietrust beskikbaar gestel het.

“Dit is ’n geskiedkundige dag in Solidariteit Helpende Hand se geskiedenis en ’n groot stap op pad na die doelwit om mense te help om hulself te help,” sê Stefan Pieterse, hoof van die Studietrust.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het tydens die aankondiging vandag verwys na globale lesse waaruit geleer kan word wat lokaal toegepas kan word. “In die woorde van die Amerikaanse ekonoom Milton Friedman is dit belangrik om in ag te neem dat opleiding die beste belegging ooit is waarop ’n mens ’n lewenslange opbrengs kry.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Buys het daarop gewys dat daar ’n direkte verband tussen die grootte van lande se ekonomieë en die lewensgehalte, -standaard, en –verwagting van die land se burgers is. Die VSA en China bestee per kop meer aan opleiding as wat die hele Afrika doen.

Hy het ook gewys op die regstreekse verband wat daar tussen moedertaalonderrig en die inkomste van ’n land is. “Vir sukses en vooruitgang in die lewe moet moedertaalonderrig so ver moontlik plaasvind.”

“Baie instansies fokus net op armoedeverligting, maar om regtig ’n verskil te maak moet gemeenskappe opgehef en gehelp word om hulself te help.”

Hannes Noëth

Luidens ’n verslag wat die Skole Ondersteuningsentrum (SOS) onlangs vrygestel het, was daar in 2020 sowat 168 000 hoërskoolleerlinge in Afrikaanse enkelmediumskole. Hiervan het sowat 44 000 matrikulante Afrikaans as huistaal geneem en geskryf.

Die rol wat ’n instelling soos die Studietrust speel, is nóg belangriker as in ag geneem word dat slegs sowat 27% van Afrikaanse matrikulante na universiteite gaan.

Pieterse het aan die hand van statistiek verduidelik hoeveel geld die Helpende Hand Studietrust oor jare deur middel van rentevrye studielenings aan studente gegee het. In 2009 was dit R984 000, in 2012 sowat R3,2 miljoen en in 2018 sowat R35 miljoen. Die Studietrust het R232 miljoen oor die afgelope tien jaar in sowat 6 000 studente belê. Die droom is om dié bedrag teen 2030 tot R1 miljard uit te brei.

Stefan Pieterse, hoof van die Helpende Hand Studietrust

Pieterse het ook verduidelik dat die styging in lenings wat toegestaan word, toegeskryf kan word aan die goeie terugbetalingskoers van bykans 90% deur afgestudeerde studente en die ruim skenkings van donateurs.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het die noodsaaklikheid van opleiding beklemtoon in die lig van Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfer. In drie provinsies is dit bo 50%, terwyl die uitgebreide werkloosheidsyfer vir die land op 46,6% bereken word.

Volgens Noëth is onderrig en opleiding die antwoord op armoedeverbreking en –voorkoming. “Baie instansies fokus net op armoedeverligting, maar om regtig ’n verskil te maak moet gemeenskappe opgehef en gehelp word om hulself te help.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand

Noëth het verwys na die sowat 18,4 miljoen mense wat van staatstoelaes afhanklik is. “Toelaes maak mense van welsyn afhanklik. Dit maak mense dood. Ons fokus is om van welsyn af weg te beweeg en om eerder geleenthede vir mense te skep sodat hulle kan werk en daardeur uiteindelik ’n kragtige samelewing gebou kan word.”

Die Studietrust het in 2020 ’n opname onder sowat 480 studente gedoen wat hulp gekry het. Sowat 71% van hulle het aangedui dat hulle tydens hul studies tussen R0 en R10 000 per maand kon verdien. Nadat hulle afgestudeer het, het dit gestyg na tussen R10 000 en R25 000 per maand. Sowat 86% van hulle het aangedui dat hulle ná hul studies ’n werk kon kry.

Soortgelyke plasings