|

Hertzogville-tak herstel meer as 110 slaggate in een straat

Die AfriForum-tak in Herzogville het in Junie ’n minimum van 100 sakkies teer (oftewel 2,5 ton) gebruik om meer as 110 slaggate in Skoolstraat in Hertzogville te herstel. Hierdie tak het die projek saam met verskeie ander rolspelers aangepak nadat verskeie klagtes uit die gemeenskap ontvang is van die haglike toestand van hierdie pad.

“Die paaie in Hertzogville is in ’n baie slegte toestand. Die tak het besluit om hierdie projek aan te pak om dié straat in die dorp begaanbaar te maak. Dit is te danke aan AfriForum-lede dat projekte soos hierdie moontlik is,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

“Die oplossing is egter net tydelik en daarom het AfriForum se Hertzogville-tak ook in die jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) by die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit voorgestel dat daar fondse beskikbaar gestel moet word vir die herstel en opknapping van paaie en dat die munisipaliteit die infrastruktuur in stand moet hou,” sluit Nel af.

Die AfriForum-tak in Hertzogville beplan om nog ’n verdere 1,8 ton se teer aan te koop om nog meer slaggate te herstel. Die tak nooi die Hertzogville-gemeenskap om by hierdie projek betrokke te raak deur middel van skenkings of om ’n tydjie af te staan en te kom help om slaggate te herstel.

Besoek AfriForum Hertzogville op Facebook om die projekte te sien waarmee die tak besig is of kontak Nel by jp.nel@afriforum.co.za om by hierdie slaggat-projek aan te sluit.

Soortgelyke plasings