| | |

Hoe reis ek tussen provinsies vir mediese behandeling?

Dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake

COVID-19 en die gevolglike inperking in Suid-Afrika het die publiek op verskeie maniere onkant betrap en mense gaan nog vir etlike dae kopkrap oor sekere situasies. Beweging is aansienlik ingeperk, wat sommige noodsaaklike mediese prosedures vir pasiënte bemoeilik.

Heelwat vrae het ontstaan oor mense wat in een provinsie woon en tussen 26 Maart en 16 April 2020 mediese noodbehandeling of behandeling vir chroniese toestande in ’n ander provinsie moet ontvang. Mense moet byvoorbeeld van een provinsie na ’n ander reis vir kankerbehandeling by hul onkoloog. Reis tussen provinsies, stede en munisipale streke is tans verbode, maar daar is gelukkig uitsonderings op dié reël.

Jy mag wel jou woning verlaat indien jy ’n noodsaaklike diens lewer of verkry, jouself in ’n mediese noodsituasie bevind, lewensreddende mediese behandeling of behandeling vir ’n chroniese toestand ontvang, of ’n maatskaplike toelaag gaan haal.

Jy gaan waarskynlik tussen provinsies of elders afgetrek word en die beamptes aan diens gaan jou ten minste vir jou papierwerk vra. Toon dan aan hulle die uitdruk van die e-pos vanaf jou dokter en enige ander stawende dokumente om te bewys dat jy ’n bona fide en noodsaaklike afspraak het om na te kom. Dieselfde geld vir wanneer jy terugkeer huis toe en waarskynlik weer iewers afgetrek gaan word.

Wees ook bereid om jou dokter se telefoonnommer te verskaf sodat beamptes wat hom of haar dalk wil kontak, wel in staat is om dit te doen.

Nóg ’n probleem rondom reis tydens inperking is dat voertuie wat gewoonlik vier passasiers kan akkommodeer, nou slegs een insittende mag hê. As jy self bestuur, is dit geen probleem nie en kan jy laat waai met jou motor. Indien die pasiënt nie in staat is om self te bestuur nie, sal iemand anders hulle moet vergesel. Die beste in hierdie geval sal wees om wel die doktersafspraak na te kom en hierdie noodsaaklike behandeling te ontvang, maar om seker te maak jou papierwerk is in orde.

Wees bewus daarvan dat jy moontlik vir COVID-19 getoets kan word indien jy besig is om te reis. Wees dus vriendelik, rustig en behulpsaam en onderwerp jou aan sulke toetse. Dit is vir almal se beswil en sal enige probleme tot die minimum beperk.

Ofskoon daar steeds sekerlik grys areas hier bestaan, behoort dit nie ’n probleem te wees om oor provinsiale grense te reis (of dat iemand jou só rondry) om noodsaaklike mediese behandeling te bekom nie. Wees net voorbereid met jou dokumentasie, wees hoflik en wees bereid om moontlik getoets te word, dan behoort als vlot te verloop.

Soortgelyke plasings