Hof beslis teen padgebruikers, maar AfriForum-regstryd nog lank nie verval

Die Hooggeregshof in Pretoria het vandag AfriForum se aansoek van die hand gewys dat die regulasie rondom die verval van bestuurslisensies hersien moet word. Dit beteken dat bestuurslisensies tans slegs vir vyf jaar geldig sal bly. AfriForum se regspan ondersoek die moontlikheid om te appelleer. Die burgerregteorganisasie voer aan dat die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996 strydig is met die 5-jaar geldigheidsperiode en nie ruimte laat vir ’n regulasie wat bepaal dat lisensiekaarte verval nie, maar die aansoek is op ’n tegniese punt van die hand gewys.

Die aansoek is op 8 Augustus aangehoor en die uitspraak is vandag bekend gemaak. Volgens regter AJ Strijdom se uitspraak moes AfriForum die aansoek gebring het binne 180 dae nadat die regulasie 23 jaar gelede uitgevaardig is en is dit daarom nie ontvanklik nie.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is die beslissing ’n klap in die gesig van verantwoordelike motorbestuurders in Suid-Afrika. “Dié hofuitspraak bekragtig die Departement van Vervoer se ‘wanbestuurslisensie’ wat nooit verval nie. Die departement is nie in staat om lisensiekaarte betyds uit te reik nie, maar wetsgehoorsame burgers moet dan die boetes betaal,” sê Boshoff.

Boshoff voer verder aan dat dit jammer is dat die hof op ’n tegniese punt kondonasie vir die “laat” liassering van die hersieningsaansoek geweier het in plaas van om met die meriete van die saak te handel. Die teenstrydigheid in die wet is ooglopend.

AfriForum het verskeie klagtes ontvang van individue wat nie betyds hul hernude lisensiekaarte van die Departement van Vervoer ontvang nie. Dit lei daartoe dat hulle beboet kan word ten spyte van elke poging om wettig gelisensieer te bly. Die departement se lisensiekaartdrukker het die afgelope paar jaar dikwels onklaar geraak en dit is duidelik dat lisensies steeds vinniger verval as wat nuwes gedruk word.

“Die Departement van Vervoer kan nie meer onderskeid tref tussen bevoegde en onbevoegde bestuurders nie – hulle het die grootste bestuurslisensietoets in die land gedop,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings