| |

AfriForum-buurtwag dien zama-zamas nekslag toe

Drie onwettige mynwerkers – bekend as zama-zamas – is op Woensdag 25 Oktober tydens ’n operasie in die Primrose-omgewing vasgetrek, en nog ’n aantal is uit hul wegkruipplek verjaag. AfriForum se Germiston-buurtwag het tydens die operasie bystand verleen aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, het ’n oorlog in die kleine ontstaan toe onwettige myners met AK47’s op sekuriteitsmagte losgebrand het. Dit is egter met taktiese teenvuur begroet. Geen beserings is aangemeld nie. Daar is beslag gelê op tuisgemaakte ploftoestelle, vuurwapens, ammunisie en ’n gesteelde voertuig.

Die Primrose-gemeenskap word reeds etlike jare deur onwettige mynwerkers geteister in wat sommige nou as ’n “turfoorlog” bestempel.  

“Ons is baie trots op en dankbaar vir ons buurtwaglede wat bereid is om, binne die raamwerk van die wet, die veiligheid van hul gemeenskappe in hul eie hande te neem. Hierdie sukses wys net weereens hoe effektief die statutêre magte en gemeenskapsveiligheidstrukture kan saamwerk in die stryd teen misdaad,” sê Broodryk.

Rolspelers betrokke by dié operasie was: AfriForum, Forum Sekuriteit, Mamba Security, CPS Security, Graphite Security, Primrose en Germiston SAPD, Johannesburg-metropolisie (JMPD), Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) en die plaaslike kriminele rekordsentrum (LCRC).

Sluit aan by jou naaste AfriForum-buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za.

(Grafika: Wikimedia Commons, Gus Jewell)

Soortgelyke plasings