|

Overstrand-tak plant dertig inheemse bome in Kleinmond

AfriForum se Overstrand-tak het Donderdag (26 Oktober) 30 inheemse bome, waaronder geelhout, assegaai, witpeer en kusvaalbos, by Laerskool Kleinmond aangeplant. Dié bome is deur Themba Trees, die Elgin-vallei se voorste kenners van inheemse bome, vir die projek geskenk, terwyl Kleinmond Tuindienste hul diens gratis aangebied het. Hulle het gate vir die jong boompies se nuwe staanplek gegrawe en ook hand bygesit met die plantwerk.

Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, word daar met hierdie boomplantprojek nie net geplant vir ’n groener toekoms vir Kleinmond nie, maar verhoudinge tussen die Overstrand-tak, Laerskool Kleinmond en die gemeenskap word hiermee op ’n opbouende wyse uitgebrei.

Intussen sit AfriForum se Alfa-buurtwag sy goeie werk ten opsigte van gemeenskapsveiligheid in die Overstrand voort. Die Overstrand-tak is al hoe meer besig om ’n verskil te maak in die gemeenskap en wil in die toekoms ook ’n pad met plaaslike skole stap.

“Ons bedank die AfriForum-lede en elkeen wat gehelp het om hierdie boomplantprojek aan te pak. Dit laat ’n mens met ’n goeie gevoel wanneer mense, wat mekaar nie eens ken nie, bymekaarkom en vir ’n beter toekoms saamwerk,” sê Benade.

Die Overstrand-tak bedank graag elkeen wat ’n bydrae tot die projek gemaak het, insluitende: Esther Groenewald (skoolhoof van Laerskool Kleinmond), Hannes en Elma Nieuwoudt en Pietie Roux (Kleinmond Tuindienste), Du Toit Jordaan (onderwyser vir eko-skakeling by Laerskool Kleinmond) en Hendrik Lourens (terreinbestuurder by Laerskool Kleinmond). Overstrand se takbestuur, waaronder Carli Jooste, Lourens Theron en Carina Falck, het die nodige reëlings getref om die bome te bekom en dit te vervoer, en het sodoende help toesien dat die projek kon realiseer.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Overstrand-tak en Alfa-buurtwag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings