|

Hofuitspraak: Toerismerasfonds onwettig verklaar

Die appèlhof in Bloemfontein het vandag in sy uitspraak verklaar dat die Departement van Toerisme se implementering van swart ekonomiese bemagtig (SEB) as kriteria vir sy hulpfonds onwettig is. AfriForum en Solidariteit het dié kriteria van die departement in die hof teengestaan. Die uitspraak tesame met ’n kostebevel is teen die departement gelewer.

“Ons is verheug oor die uitspraak. Dit is ’n oorwinning vir elkeen in die toerismesektor wat as gevolg van die regering se implementering van die Wet op Rampbestuur hulle inkomstes en ondernemings verloor het, maar vir wie die regering op grond van velkleur verwerp het. Solidariteit en AfriForum het volgehou dat die virus nie sy slagoffers op grond van velkleur kies nie en dat die regering nie die reg het om op hierdie kriteria te kies wie hy sal help nie. Ons kon hierdie growwe uitbuiting van mense in nood deur die regering net nie toelaat nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit.

Volgens regter Plasket het die minister van toerisme, ’n regsfout begaan en is sy nie wetlik verplig, soos sy aangevoer het, om fondse op grond van SEB-vereistes toe te ken nie. Die uitspraak van regter Plasket vervang die vorige uitspraak, wat op 6 April 2020 in die guns van die departement gelewer is. AfriForum en Solidariteit het teen die uitspraak geappelleer en die saak is elektronies op 25 Augustus aangehoor.

Die toerismesektor het swaargekry onder die regering se drakoniese inperkingsmaatreëls en vir die regering om dan nog teen mense te wil diskrimineer gebaseer op hulle ras, wys net dat die Departement van Toerisme sy prioriteite in orde moet kry.

“Die hofuitspraak maak dit duidelik dat die minister ’n fout in haar interpretasie van die Wet gemaak het. Dit kan ook wees dat die minister se regsadviseurs onbekwaam is, of dat sy presies geweet het wat sy doen en steeds gekies het om teenstrydig met die relevante wetgewing teen mense, gebaseer op hulle velkleur, te diskrimineer,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.

“Dit is hoogtyd dat regeringsamptenare besef dat hulle nie kan maak en breek soos hulle wil nie en dat die belastingbetaler se geld nie onverskillig uitgegee kan word, of aangewend kan word om die ANC se ideologie te finansier nie. Ministers en hulle onderskeie departemente is ook onderwerp aan die wette van hierdie land en sal ook tot verantwoording geroep word indien hulle nie daaraan gehoor gee nie. Ons sal aanhou om as waghond op te tree en nie huiwer om hierdie onregte aan te spreek nie,” sluit van der Bijl af.

Lees die uitspraak hier.

Soortgelyke plasings