|

Suid-Kaap-takke maak hul stemme dik oor onherstelbare skade wat BELA-wetsontwerp kan berokken

AfriForum se takke in die Suid-Kaap het die afgelope week hul stemme laat hoor by die openbare raadplegingsessies oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet). Takke in George en Mosselbaai het dit duidelik gestel dat die wetsontwerp gehalte onderrig, en selfs tuisonderrig, onherstelbaar kan skaad.

Lede van dié AfriForum-takke het op onderskeidelik 28 en 29 Februarie standpunt teen die omstrede BELA-wetgewing ingeneem. Openbare raadplegingsessies word tans landwyd gehou as deel van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se besluitnemingsproses oor die wetsontwerp. Hierdie wetsontwerp beoog om die bestaande Suid-Afrikaanse Onderwyswet van 1996 en die Wet op die Indiensneming van Opvoeders van 1998 te vervang.

Jana Naude, voorsitter van AfriForum Jeug se George-tak, voer aan dat sommige van die bepalings vervat in die wetsontwerp praktiese opdaterings van die bestaande wette is. Hierteenoor is daar ook nuwe en gevaarlike bepalings wat Afrikaanse moedertaalonderrig en selfs tuisonderrig erg kan benadeel.  

“Ons jongmense moet verstaan hoe belangrik dit is om hierdie wetsontwerp teen te staan, want dit is ons kinders wat oor ’n paar jaar aan die genade van hierdie wette oorgelaat gaan word. Ons het op skool die reg gehad om moedertaalonderrig te ontvang, en het ’n ouerbeheerliggaam gehad wat bowenal na die belange van die leerders omgesien het. Dit behoort steeds elke leerder se reg te wees.”

Volgens Kemp Myburg, ondervoorsitter van AfriForum se George-tak, skiet die wetsontwerp ver tekort om die talle inherente uitdagings wat die moderne onderwysstelsel in die gesig staar, aan te spreek. “Die regering gee voor dat hierdie wysigings nodig is om skole teen onbevoegde beheerliggame te beskerm, maar die huidige wet bevat die nodige bepalings wat kan sorg dat dié beheerliggame vervang kan word. As dit nie in die praktyk gebeur nie, is dit omdat die provinsiale onderwysdepartemente ongewillig of onbevoeg is om dit te doen, en nie omdat die huidige wet dit nie toelaat nie.”

Enigiemand wat gemeenskappe se onderwysbelange op die hart dra word aangemoedig om die openbare raadplegingsessies wat nog voorlê by te woon en hulle stemme teen die wetsontwerp te laat hoor.  Meer inligting is beskikbaar by stopbela.co.za.

Sluit by jou naaste AfriForum-tak aan om jou stem te laat hoor. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel hom by 081 216 9602 om in die Suid-Kaap betrokke te raak.

Soortgelyke plasings