|

Hof verklaar Departement van Toerisme se “rassefonds” onwettig

Saamgestel deur Forum Nuus

Die appèlhof in Bloemfontein het pas die Departement van Toerisme se implementering van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) as kriteria vir sy ekwiteitsfonds (TEF) onwettig verklaar. Die aansoek is met koste van die hand gewys.

Dit volg nadat Mmamoloko Kubayi-Ngubane, voormalige Minister van Toerisme, geappelleer het teen die beslissing van die Noord-Gautengse Hooggeregshof in April vanjaar om AfriForum en Solidariteit se aansoek om die SEB-vereiste onwettig te laat verklaar toe te staan.

Die TEF is deel van pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese heropbou-en-herstelplan (ERRP) wat in Oktober 2020 aangekondig is. Die fonds het R1,2 miljard tot sy beskikking en word deur die agentskap vir die finansiering van kleinsake (Sefa) namens die Departement van Toerisme bestuur. Dit bestaan uit ’n kombinasie van lenings en toelae en is gemik op verkrygings en nuwe projekte in toerisme deur swart entrepreneurs.   

Solidariteit en AfriForum het volgehou dat COVID-19 nie sy slagoffers op grond van velkleur kies nie en dat die regering nie die reg het om op grond van hierdie kriteria te kies wie hy sal help nie. “Ons kon hierdie growwe uitbuiting van mense in nood deur die regering net nie toelaat nie.”

Anton van der Bijl

Die hofsaak het gevolg nadat ’n vergadering tussen die organisasies en die departement geen vrugte afgewerp het nie en dit duidelik was dat die departement net sy eie standpunt verdedig.

Die minister het in haar appèlaansoek gesê sy voel die Toerismesektorkode noop haar om die SEB-kriteria vir die toekenning van fondse in te sluit. SEB-kriteria moet volgens haar “die begin en die einde van ’n aansoek” wees.  

Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder, sê die toerisme sektor het swaar gely onder die regering se drakoniese inperkingsmaatreëls en vir die regering om dan nog teen mense te wil diskrimineer gebaseer op hul ras, wys net dat die Departement van Toerisme sy prioriteite in orde moet kry.

“Die hofuitspraak maak dit duidelik dat die minister ’n fout gemaak het in haar interpretasie van die wet,” sê Broodryk. “Óf die minister se regsadviseurs is onbenullig, óf sy het presies geweet wat sy doen en steeds gekies om teenstrydig met die relevante wetgewing teen mense te diskrimineer gebaseer op hul velkleur.”

Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit, sê hulle is verheug oor die uitspraak. “Dit is ’n oorwinning vir elkeen in die toerismesektor wat ook as gevolg van die regering se implementering van die ramptoestandswet hul inkomstes en besighede verloor het, maar vir wie die regering op grond van velkleur verwerp het.”

Solidariteit en AfriForum het volgehou dat COVID-19 nie sy slagoffers op grond van velkleur kies nie en dat die regering nie die reg het om op grond van hierdie kriteria te kies wie hy sal help nie. “Ons kon hierdie growwe uitbuiting van mense in nood deur die regering net nie toelaat nie.”

Die hof se beslissing is nie terugwerkend van aard op fondse wat reeds uitbetaal is nie.  

Soortgelyke plasings