|

Hokaai, boewe! Dié Paarliete nou slaggereed ná veiligheidsopleiding

Die inwoners van Paarl hoef geensins lam te lê as misdadigers toeslaan nie, want danksy AfriForum se Paarl-tak is 19 burgers nou toegerus om hulself te verdedig indien dit genoodsaak word. Dié tak het die afgelope naweek in samewerking met Rukata Combat and Self Defence Systems ’n suksesvolle selfverdedigingswerksessie gehou waartydens deelnemers kontakvegskuns geleer is.

Die sessie is saamgestel met die oog op veiligheidskwessies wat inwoners van die Wes-Kaap daagliks teëkom en is gratis aangebied. Die deelnemers is onder meer geleer hoe om aanvalle af te weer wat met wapens soos messe of pangas uitgevoer word. Die betrokkenes is dit eens dat die tegnieke prakties implementeerbaar is vir mans en vroue.

Volgens Ben Venter, lid van die Paarl-tak, kan dié selfverdedigingswerksessie moontlik kwartaalliks aangebied word, en selfs verder uitgebrei word om naburige takke en sy lede te betrek en te bemagtig om hulself met selfvertroue te verdedig. 

Met dié dat individue toenemend die teiken van ernstige geweldsmisdade word, is dit belangrik dat almal hulself met die nodige kennis toerus oor hoe om in dié soort situasies op te tree. Dit is een van die redes waarom AfriForum verskeie soorte opleiding fasiliteer wat gemik is op gemeenskapsveiligheid.

“Ons is trots daarop dat takke die inisiatief neem om hulself en hul gemeenskap te bemagtig en toe te rus met die nodige vaardighede om hulself, en moontlik ander, te kan beskerm,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om aan te sluit by AfriForum se Paarl-tak en sy buurtwag. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings