|

Steenkool- en dieselkontrakte: Eskom speel vir tyd, waarsku AfriForum

Eskom se planne om te appelleer teen verlede week se hofuitspraak van die Gautengse Hooggeregshof – waarin bepaal is dat die kragvoorsiener inligting oor sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte aan AfriForum moet openbaar – is bloot nog ’n vertragingstaktiek, waarsku dié burgerregteorganisasie. AfriForum het vandag benadruk dat die organisasie ’n appèl teen die uitspraak sal teenstaan.

Eskom werp skynbaar alles in die stryd om te verhoed dat hy inligting rakende sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte in die volgende tien dae aan AfriForum moet openbaar. Dit ondanks die feit dat die hof Eskom op 24 Maart beveel het om gehoor te gee aan AfriForum se aansoek om dié kontrakte ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) te bekom.

Die kragvoorsiener het AfriForum ’n dag ná die uitspraak gelewer is skriftelik in kennis gestel dat hy aansoek om verlof tot appèl gaan doen. As gevolg hiervan gaan Eskom nie die inligting rakende sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte aan AfriForum oorhandig nie.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, versterk hierdie stap die burgerregteorganisasie se vermoedens dat die kontrakte ongerymdhede bevat wat Eskom geheim wil hou.

“AfriForum is daarvan oortuig dat die onlangse uitspraak waterdig is en sal daarom die beplande appèlaansoek teenstaan”, sê Boshoff. “Dit is tyd dat Eskom se vertragingstaktieke end kry en die kragvoorsiener verantwoordbaar gehou word.”

Soortgelyke plasings