In die lig van sluiting van koerante skok Naspers-baas se vergoeding – AfriForum

Nuusberigte oor die astronomiese vergoeding wat Naspers se voormalige hoof uitvoerende beampte, Bob van Dijk, verdien het en steeds tot September 2024 gaan verdien, skep net meer vrae oor die planne van Media24 om sowat 400 personeellede uit diens te stel en koerante insluitend Beeld en Rapport te sluit.

Hierdie strategiese oorwegings van die mediareus is tot op hede verpak as weldeurdagte besigheidsbesluite, maar in die lig daarvan dat die gedrukte weergawes van Beeld en Rapport wel nog winsgewend is en dat senior personeel op hierdie vlak vergoed word, hou die argumente nie water nie, aldus Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

Sedert die nuus oor Media24 se moontlike besparings aan die lig gekom het, is gewys op die vele voordele wat die voortbestaan van gedrukte koerante en ander publikasies vir lesers, die taal waarin dit verskyn en die breër gemeenskap waaroor dit berig, inhou. Daar is ook gewys op die feit dat baie mense in Suid-Afrika weens tegniese of finansiële uitdagings, nie toegang tot elektroniese media het nie en daarom nie toegang tot aanlyn beriggewing sal hê indien die koerante sluit nie.

Van die kant van die mediareus het dieselfde stilte hierop gevolg as wat gehoor word oor die toekoms van die ongeveer 400 mense wie se inkomste en toekoms deur die besluit geraak gaan word. “Van die boodskappe wat AfriForum sedert verlede week ontvang het, sluit die e-pos van ’n koerantverkoper in wie se enigste inkomste die koerantafleweringsgeld is. Hiermee probeer sy om haarself en drie kleinkinders te versorg. Haar omstandighede, en dié van vele ander lojale personeellede soos sy, in vergelyking met Van Dijk wat volgens nuusberigte in die afgelope finansiële jaar meer as ’n miljoen rand per dag verdien het, is skreiend,” meen Bailey.

AfriForum se petisie teen die sluiting van die koerante duur voort en die publiek kan dit onderteken by www.redrapport.co.za.

Soortgelyke plasings