|

Ingang na Delmas ondergaan gedaanteverwisseling

AfriForum se Delmas-tak het op 13 Mei in samewerking met vrywilligers en die organisasie Delmas Herleef dié dorp se ingang in uitbreiding 4 vanaf die R50-roete begin opknap.

Randstene is skoon geskoffel en geverf, rommel is opgetel en stoptekens is vervang waar dit ontbreek. Die velde rondom die ingang is ook met ’n trekker en bossiekappers gesny. Hierdie projek is op 15 Mei voortgesit en verdere stoptekens wat in uitbreiding 4 ontbreek, is vervang.

“Ek wil elke onderneming en individue bedank wat onder meer stoptekens, verf, rollers en kwaste geskenk het en die trekker beskikbaar gestel het,” sê Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak.

Die harde werk en hulp van talle ondernemings, vrywilligersgroepe en gemeenskapslede om Delmas met ’n nuwe baadjie af te stof, loop hand aan hand met die dorp se benoeming as een van die Mpumalanga-finaliste in Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie vir 2023.

“Dit is vir my verblydend om te sien hoe ons gemeenskap saamstaan en elkeen sy bydrae lewer om van ons dorp ’n skoner en veiliger blyplek te maak. Die goeie gees waarin ons AfriForum-lede en die gemeenskap saamwerk, is ’n riem onder die hart,” sluit Botha af.

Soortgelyke plasings