|

Alberton-tak ontmoet die bure en maak park skoon

AfriForum se Alberton-tak het op Wêreldskoonmaakdag  (16 September) in samewerking met ander gemeenskapsorganisasies ’n geleentheid genaamd ontmoet die bure by Gatwick Park aangebied. Daar is ook van hierdie geleentheid gebruik gemaak om die park op te ruim. Ongeveer 25 vrywilligers het die dag saamgekom om ’n hand by te sit.

Die doel van hierdie inisiatief was om ’n veilige ruimte te skep waar bure mekaar kon ontmoet en terselfdertyd ook kon help om die omgewing skoon te maak en te verbeter. Die Alberton-tak het saam met die plaaslike Alberton PICUP-organisasie gewerk om die park op te ruim.

“Die samewerking tussen gemeenskappe en organisasies skep hoop vir die toekoms. Om projekte soos dié aan te pak, is ’n bewys daarvan dat ons nie gaan lê en toekyk hoe ons omgewing agteruitgaan nie,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Die Alberton-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by hul inisiatiewe om ’n positiewe verskil te maak.

Vir meer inligting en om betrokke te raak, kan die gemeenskap die tak per e-pos kontak by alberton@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings