|

Ingryping dringend nodig teen geweld op SA-kampusse

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Verskeie universiteitskampusse het die afgelope weke onder gewelddadige protesoptogte deurgeloop, terwyl onderrig ontwrig en klasse afgelas  moes word.

Volgens onderwysontleders en -kenners is daar waarskynlik uiteenlopende redes vir dié tendens, terwyl die groepe moeilikheidmakers, wat hoofsaaklik uit EFF-lede bestaan, ’n gebrek aan transformasie as hoofrede aanvoer.

Daar was die afgelope weke protesoptogte by die Elsenburg-landboukollege buite Stellenbosch, waar sommige studente ook met stokke en swepe aangerand is, die Noordwes-universiteit, Wits,  Maties en die Tshwane-universiteit van Tegnologie.

AfriForum Jeug het sterk kapsie gemaak oor die wanorde wat op kampusse aan die orde van die dag is en waar studente se reg op onderrig ondermyn word.

“Universiteite moet begin om diegene wat reëls en die gedragskode op kampusse oortree, vas te vat. Daar is geen regverdiging vir ongedissiplineerde gedrag nie,” meen Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Die organisasie het herhaaldelik prober ingryp by die situasie op Elsenburg nadat daar ook op studente gespoeg en gevloek is en klasse met kettings toegesluit is. Die bestuur van die instelling het uiteindelik na ernstige geweld ingegryp en ’n dringende interdik teen molesmakers gekry. ’n Klein groepie studente het betoog oor hul beweerde ontevredenheid met Afrikaans was naas Engels as onderrigmedium gebruik word.

By Wits en TUT was daar ook konflik tydens die studenteraadverkiesings. By TUT het Julius Malema, EFF-leier, self studente kom toespreek en hulle aangemoedig om vir die EFF-kandidate te stem

Hoewel dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, die kwessie van transformasie op kampusse vandeesweek in die parlement geopper het en die bestuur van Maties spesifiek voor stok gekry het, is daar ontleders wat meen hy skitter in sy afwesigheid om die probleme, veral rondom die uitvoerbaarheid van meertaligheid, te takel.

Belinda Bozzoli, die DA se skadu-minister van hoër onderwys, het by navraag gesê finansiering is die kernoorsaak van studente-protesaksies  in Suid-Afrika. “Studente wat finansieel sukkel, is veral kwesbaar en word maklik opgesweep word deur politiese studenteverenigings soos die EFF en Sasco.”

Sy meen studente ervaar dat die EFF hul sosiale omstandighede verstaan en hulle ten volle sal verteenwoordig en bemagtig.

Bozzoli het ook klem gelê op die departement van hoër onderwys wat volgens haar nie genoeg aandag gee aan transformasie en studiefinansiering by universiteite nie. “Talle studente maak staat op die nasionale studente finansieringshulpskema (NSFAS) en daar is nooit genoeg geld beskikbaar nie.”

Bozzoli meen ook dat ’n groeiende “swart bewussyn” en onlangse veldtogte soos die #rhodesmustfall tot die rewolusionêre tendense op kampusse aanleiding gee.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, meen daar is ’n georganiseerde aanslag wat boonop ook druk op die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal plaas.

Volgens Mulder moet meer gefokus word op die ontwikkeling van veeltaligheid by instellings sodat meer studente in hul moedertale onderrig kan word. Hy het die Universiteit van KwaZulu-Natal as voorbeeld voorgehou waar moeite gedoen word om Zoeloe te ontwikkel.

Mulder het gewaarsku dat protesaksies en veldtogte, soos die van groeperings soos OpenStellenbosch, gevaarlike propaganda gegrond op veralgemenings is. “Daar word gepoog om instellings as rassisties uit te beeld en in die proses word Afrikaans elke keer bygesleep.”

Volgens Mulder is daar talle bruin mense wat graag wil hê dat hul kinders in Afrikaans moet studeer.

Oor die rol en impak van studenteverenigings soos die EFF op kampusse, het Mulder gesê tersiêre onderrig is maar net nog een van die terreine waar die EFF, wat teen pres. Jacob Zuma is, glo hulle “bevryding” moet bring. “Hulle gebruik juis kampusse waar jong mense baie beïnvloedbaar is.

Prof. Dirk Kotze, politieke ontleder van Unisa, meen die onrus op kampusse is bewys dat huidige strukture en beleide nie aan studente se behoeftes voldoen nie. Volgens hom moet universiteite beter met studente kommunikeer en meer toeganklik wees. “Gewelddadige optrede dui op frustrasie en wys dat kommunikasie nie voldoende is nie. Studente voel uitgesluit.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê studente wat hulle aan growwe oortredings skuldig maak, is nie menseregte-aktiviste nie, maar fascistiese boewe wat ’n rasse-rewolusie en radikale vyandige oorname dryf. “Ons sal alles moontlik doen om hierdie onregte teen te staan voordat dit verder soos kanker versprei en wêreldinstellings wat oor ’n eeu gebou is totaal verwoes.

“Hierdie afbrekers moet beveg word deur almal wat ’n belang by die voorsiening van gehalte hoër onderwys en Afrikaans as akademiese taal het.”

 

 

Soortgelyke plasings