|

Inmenging by skoolname ondemokraties

AfriForum beskou die knaende ideologiese aandrang op die verandering van skoolname as ʼn weerligafleier wat op die vooraand van plaaslike verkiesings ingespan word om die publiek se aandag van die onderwysdepartement se gebrekkige dienslewering te probeer aflei.

Só het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie, gereageer nadat die Gautengse onderwysdepartement gesê het dat hy skole “met ’n naam wat aanstoot kan gee” in ’n omsendbrief gevra het om die name te heroorweeg.

Panyaza Lesufi, omstrede LUR vir onderwys, wil hê alle skole in die provinsie met apartheidsname moet dit teen September vanjaar verander.

Verskeie skole het aangedui dat hulle nog geen briewe in die verband gekry het nie, hoewel dit verlede maand op die departement se webtuiste gepubliseer is. Volgens Edward Mosuwe, hoof van die Gautengse onderwysdepartement, het skole wat vernoem is na persone uit die apartheidsera, bygedra tot die ondermyning van menseregte.

AfriForum vind die ongevraagde inmenging in skole se etos en erfenis onaanvaarbaar en volgens Bailey sal die organisasie skoolgemeenskappe se reg om oor hulle name en simbole te besluit, help verdedig.

“Soos met die aanslae teen openbare gedenktekens, standbeelde en ander monumente, skep die briewe ook die indruk dat enige geskiedenis wat nie met die regerende party en die post 1994-bestel verband hou nie, aanstoot gee,” meen Bailey.

Sy sê voorts dat skole se personeel en ouerbeheerliggame geïntimideer word deur die skrywes om name en simbole te kies wat vir die huidige regering aanvaarbaar is.

“Dit is belaglik om te beweer dat ʼn skool se naam, wapen of leuse segregasie aanmoedig of die leerlinge daarbinne ondemokraties inspireer.”

Bailey meen die ongevraagde departementele inmenging is juis ʼn voorbeeld van ondemokratiese optrede wat leerlinge en personeel kan polariseer, eerder as om waardering en respek vir mekaar se onderskeie bydraes tot die opbou en ontwikkeling van die land aan te moedig, soos wat in die aanhef tot die Suid-Afrikaans Grondwet onderneem word.

“Om die rede sal AfriForum die reg van skoolgemeenskappe om oor hulle skole se name, leuses en simbole te besluit, help beskerm.”

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê die departement se planne is nie regtens afdwingbaar nie omdat openbare skole as ’n “regspersoon” beskou word. Die naam van ’n skool is die keuse van ’n skoolgemeenskap en kan nie voorgeskryf word nie.

Skole het die reg om nuwe name heroorweeg, terwyl gemeenskappe deel van die proses moet wees.

As Lesufi en ander ideologiese gedrewe onderwysamptenare voortgaan om skoolname te teiken wat hulle aanstoot gee, maar die geskiedenis van die land misken, sal dit waarskynlik ’n baie lang lys insluit met name soos Hendrik Verwoerd, Gerrit Maritz, D.F.Malan, Jim Fouche, Hans Strijdom, John Vorster, Louis Botha, Danie Theron, Totius en verskeie generaals soos De la Rey, Beyers, Alberts, Hendrik Schoeman en Hertzog.

Die ANC se beheptheid met skoolnaamverandering het reeds in 2001 opgevlam onder die leierskap van wyle Kader Asmal, destydse minister van onderwys.

Soortgelyke plasings