|

AfriForum Jeug groei met plaaslike jeug-takke

Die burgerregte-organisasie AfriForum se jeugstrukture is aktief besig om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur hul jeugstrukture uit te brei na plaaslike AfriForum-takke regoor die land.

AfriForum Jeug het oorspronklik op universiteitskampusse ontstaan om veldtogte te dryf en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem deur kwessies soos moedertaalonderrig, regstellende aksie en die beskerming van gesonde studente-tradisies te pak.

Dié jeugstruktuur het aktiewe takke by die Universiteit van die Vrystaat (UV), Universiteit van Pretoria (UP), Universiteit van Stellenbosch (US), die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU) asook verskeie landboukolleges. Daar is egter ook ’n behoefte om die jeug ook betrokke te kry in plaaslike gemeenskappe.

Die eerste plaaslike AfriForum Jeug-tak is in Standerton op die been gebring.

Dié nuutgestigte jeugvleuel het gewoeker en in Maart ʼn vullisversamelpunt in Norkem Park, asook die omliggende gebied skoongemaak, nadat die Ekurhuleni Plaaslike Munisipaliteit met verskeie klagtes deur plaaslike inwoners en ondernemings oorval is omdat die terrein ’n gesondheidsrisiko inhou.

Die munisipaliteit het egter versuim om op te tree en die gebied skoon en in stand te hou.

Marlé Odendaal, dorpskoördineerder vir AfriForum Jeug, sê die doel van hierdie nuwe jeugvleuel is om by te dra tot die groei en ontwikkeling van gevestigde AfriForum-takke en om gemeenskappe in hierdie gebiede se mobiliseringsvermoë te versterk.

“Ons wil die jeug bemagtig met goeie argumente oor relevante kwessies soos transformasie en moedertaalonderrig en terselfdertyd bydra tot die groter AfriForum-takstruktuur.”

Skoliere, studente en jong werkendes tussen die ouderdom van 15 en 35 is welkom om aan te sluit by hul naaste plaaslike AfriForum Jeug-tak. “Ons wil geleenthede vir jong werkende persone asook skoolgaande kinders in die plaaslike gemeenskap skep om by tak-aktiwiteite betrokke te raak.”

Odendaal meen die betrokkenheid van die jeug dui op die dryf van aktivistiese asook kultuuraksies wat ten doel het om ʼn gesonde kultuur in die onderskeie dorpe te kweek.

Sy sê ook hoewel die strukture aktivisties is, sal hulle daarna streef om altyd die morele hoë grond te behou.

“Ons wil nie polities, vandalisties of radikaal voorkom of optree nie. Vir ons is aktivisme om ʼn oorspronklike manier te vind om standpunt in te neem ten einde aktief druk uit te oefen en mense deur openbare optrede te mobiliseer.”

Die Jeug-komitees vorm dus deel van die groter dorpstrukture van plaaslike AfriForum-takke en bestaan uit ʼn voorsitter en drie komiteelede.

Die jeug-takke sal deelneem aan verskeie plaaslike en nasionale aksies, insluitend ʼn nasionale Erfenis- en herwinningsprojek, asook ʼn veiligheidspatrollie.

Daar is reeds nuutgestigde takke in Standerton, Bethlehem, Klerksdorp, Vanderbijlpark en Kempton Park.

Om aan te sluit by jou naaste plaaslike AfriForum Jeug-tak, kontak Marlé Odendaal by marle@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings